Back 07 Apr, 2022 - Gesondheidsbewustheid | HealthPrint

Back

Wêreldgesondheidsdag

Wêreldgesondheidsdag

Die mens se welstand is onlosmaakbaar verbind aan die welstand van ons planeet, en die goeie nuus is dat elkeen van ons ’n positiewe verskil in ons omgewing kan maak.
Read more

Die mens se welstand is onlosmaakbaar verbind aan die welstand van ons planeet, en die goeie nuus is dat elkeen van ons ’n positiewe verskil in ons omgewing kan maak. Selfs die kleinste verandering in hoe ons leef, kan help om beter toegang tot gesonder kos, skoner water en lug te bewerkstellig asook gevaarlike afval en besoedeling te verminder. Dit is ook die tema van vanjaar se Wêreldgesondheidsdag.

Wêreldgesondheidsdag 2022

Wêreldgesondheidsdag is ’n bewusmakingsdag wat elke jaar oor die wêreld heen op 7 April herdenk word. Vanjaar se tema is “Ons planeet, ons gesondheid” en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) vra regerings en die publiek wêreldwyd om op hierdie dag te wys watter stappe hulle doen om die gesondheid van die planeet en die mense wat hier woon, te beskerm. Hulle stories vertel hoe hulle volhoubare gemeenskappe bevorder wat op die welstand van die huidige en toekomstige generasies fokus.

Die WGO sê in ’n verklaring dat “die klimaat- en gesondheidskrisis deur ons politieke, sosiale en kommersiële besluite aangedryf word. Meer as 90% van die wêreldbevolking moet besoedelde lug inasem weens die verbranding van fosielbrandstowwe. Die klimaatskrisis is die enkele grootste bedreiging vir die mensdom. Die klimaatskrisis is ook ’n gesondheidskrisis. Om hierdie siklus van vernietiging vir die planeet en die mensdom te kan verbreek, moet ons wetgewing en korporatiewe hervorming instel, en individue ondersteun en motiveer om gesonde keuses te maak.”

Die Verenigde Nasies (VN) se menseregteraad het in Oktober laasjaar ’n resolusie aanvaar wat die verpligting van lande om menseregte te beskerm, herbevestig het. Dit behels die dringende instel van aksies om omgewingsuitdagings die hoof te bied.

Volgens die VN se omgewingsprogram het die agteruitgang van die planeet se welstand die volgende gevolge vir mense se reg op ’n gesonde lewe:

  1. Die vernietiging van natuurruimtes bevorder die ontstaan van zoönotiese siektes (aansteeklike siektes wat van diere na mense en andersom oorgedra word)
  2. Lugbesoedeling verswak mense se lewensgehalte en verlaag hulle lewensverwagting
  3. Die verlies aan biodiversiteit benadeel die voedingswaarde van kos
  4. Die verlies aan biodiversiteit verminder ook die doeltreffendheid van medisyne
  5. Besoedelaars bedreig miljoene mense wêreldwyd se gesondheid
  6. Klimaatsverandering skep bykomende risiko’s vir die gesondheid en welstand van alle lewende wesens deurdat dit die voorkoms van droogtes, vloede en bosbrande verhoog.

Beskerm die planeet en jou gesondheid

Ons kan as individue elke dag belangrike keuses maak wat sal help om ons koolstofspoor te verlaag, soos om vullis te verminder, te herwin, ’n dieet van plantbasiskosse pleks van kos met preserveermiddels te volg, alternatiewe ekovriendelike vervoermetodes te oorweeg, en ons huise energiedoeltreffend te maak.
“Die gesondheid en welstand van elke Medihelp-lid word deur sowel interne (biologies, geneties) as eksterne (omgewing, verhoudings) faktore bepaal. Dit is uiters belangrik dat elke lid se lewensreis holisties beskou word, veral wat gesondheid en welstand betref,” sê dr Christo du Preez, senior bestuurder van gesondheidsinnovering by Medihelp.

“Ons moet eers al die gesondheidsfaktore begryp waaraan ons lede blootgestel is voordat ons produkte en dienste aan hulle kan bied wat hul siektes en toestande optimaal kan voorkom en behandel. Ons het ’n navorsingsprojek oor “lede se reis” begin om hierdie elemente te ondersoek, met die doel om ’n verpersoonlikte gesondheidsorgplan vir elke lid te bied.”

Medihelp ondersteun lede om optimale gesondheid te geniet deur voordele vir risikosiftingstoetse en bykomende versekerde voordele aan hulle te bied wat op voorkomende sorg fokus. Lede kan elke jaar verskeie gesondheidstoetse laat doen, insluitend ’n bloedglukose-, bloeddruk- en cholesteroltoets. Die bykomende voordele sluit in sekere inentings, vrouegesondheid soos mammogramme, bykomende swangerskapvoordele, mansgesondheid soos prostaattoetse, en bykomende voordele vir kinders soos roetine-ondersoeke en immunisering. Verdere ondersteuning vir lede se welstand word gebied deur programme soos die Chroniesesorgprogram vir lede met chroniese siektes.

Bronne:

World Health Organization:  https://www.who.int/campaigns/world-health-day/2022
UNEP: https://www.unep.org/news-and-stories/story/six-reasons-why-healthy-environment-should-be-human-right
United Nations: https://news.un.org/en/story/2021/10/1103082 and https://www.un.org/en/actnow/ten-actions and https://www.un.org/sustainabledevelopment/takeaction/
Medical News Today: https://www.medicalnewstoday.com/articles/climate-change-substituting-food-items-rather-than-whole-diets-can-still-make-a-big-difference

 


Share this on: