Wêreldhipertensiedag word jaarliks op 17 Mei gedenk om bewustheid oor die toestand te verhoog en die voorkoming, diagnose en bestuur daarvan te bevorder.
Hipertensie (hoë bloeddruk) word dikwels na verwys as ’n “stille moordenaar” omdat dit feitlik geen simptome het nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat dat amper die helfte (46%) van volwassenes met hipertensie wêreldwyd onbewus is daarvan dat hulle aan die toestand ly. ’n Geskatte 1,28 miljard volwassenes wêreldwyd ly aan hipertensie, terwyl net een uit elke vyf volwassenes (21%) dit onder beheer het.
Volgens die Hart-en-beroerte-stigting van Suid-Afrika leef meer as een uit elke drie volwassenes met hoë bloeddruk. Dit is verantwoordelik vir een uit elke twee beroertes en twee uit elke vyf hartaanvalle.
Medihelp Mediese Fonds se voordele vir hoë bloeddruk
Voordele vir jaarlikse gesondheidstoetse
- Een kombinasietoets (bloedglukose, cholesterol, LMI en bloeddruk) per afhanklike per jaar, beskikbaar op alle mediesefondsplanne
Voordele vir chroniese siektes
- Voordele vir chroniese medikasie en dienste wat met voorgeskrewe minimum voordele (VMV) verband hou, beskikbaar op alle mediesefondsplanne
Weet wat jou getalle sê
Bloeddruk word in millimeter kwik (mmHg) gemeet en word as twee getalle aangegee – sistolies (wat die druk in die are meet wanneer die hart klop) en diastolies (meet die druk in die are wanneer die hart tussen slae rus).
Bloeddruklesings:
- Normaal: Minder as 120 systolies en 80 diastolies
- Verhoog: 120 tot 129 systolies en minder as 80 diastolies
- Graad 1-hipertensie: 130 tot 139 systolies of 80 tot 89 diastolies
- Graad 2-hipertensie: Minstens 140 systolies of minstens 90 diastolies
- Hipertensiewe krisis: Hoër as 180 diastolies en/of hoër as 120 diastolies
Risikofaktore en waarskuwingstekens
Risikofaktore vir hoë bloeddruk sluit in:
- Oorgewig
- Verkeerde eetpatrone, insluitend ’n dieet wat te veel sout bevat (onlangse studies dui ook daarop dat bygevoegde suikers – veral suikers in verwerkte vorm, soos fruktose-mieliestroop wat in koeldrank voorkom – ’n selfs groter rol as sout kan speel om bloeddruk te verhoog)
- Gebrek aan oefening
- Te hoë alkoholinname
- Rook
- ’n Familiegeskiedenis van hoë bloeddruk
Simptome wat gewoonlik met ’n hipertensiewe krisis verband hou, sluit in:
- Hoofpyne
- Neusbloeding
- Wasige sig
- Borspyn
- Naarheid
- Angs
- Kortasemigheid
- Toevalle
Behandeling en bestuur
Hoë bloeddruk kan bestuur word, en jy kan ’n paar dinge verander om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf, soos:
- Oefen gereeld
- Eet ’n gesonde dieet ryk aan volgraan- en hoëveselkos
- Verminder jou sout- en suikerinname
- Drink alkohol matig
- Hou op rook
Spesifieke medikasie is ook beskikbaar om hoë bloeddruk te behandel. Besoek gereeld jou dokter om vas te stel hoe veranderinge in lewenstyl en medikasie jou bloeddruk beïnvloed.
Wenke vir wanneer jy jou bloeddruk tuis meet
- Meet jou bloeddruk twee keer per dag – die eerste een soggens en die tweede een saans.
- Neem jou bloeddruklesing elke dag op dieselfde tyd.
- Vermy kos, kaffeïen, tabak en alkohol vir 30 minute voordat jy ’n lesing neem.
- Rus voor die tyd vir ’n paar minute en maak jou blaas leeg.
- Hou jou rug reguit en jou voete op die vloer.
- Steun jou arms op ’n plat oppervlakte en teen dieselfde hoogte as jou hart.
- Plaas die band direk op jou vel, nie oor klere nie.
- Neem nog ’n lesing drie minute ná die eerste een om seker te maak dis akkuraat.
Bronne:
https://www.medicalnewstoday.com/articles/150109https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/high-blood-pressure/symptoms-causes/syc-20373410
https://www.who.int/news-room/fact-sheets/detail/hypertension
https://www.express.co.uk/life-style/health/1609008/high-blood-pressure-sugars-fructose-syrup
https://www.heartfoundation.co.za/blood-pressure/