Aansoek om mediese­fondsdekking Icon

Aansoek om mediese­fondsdekking

Gaan terug

Wat moet ek weet wanneer ek vir die eerste keer by 'n mediese fonds aansluit?

Wanneer jy vir die eerste keer by ’n mediese fonds aansluit, kies ’n plan wat by jou begroting en basiese gesondheidsorgbehoeftes pas. ’n Basiese plan of hospitaalplan is dikwels ’n goeie beginpunt, en jy kan later opgradeer soos jou behoeftes verander.

MedVital en MedVital Elect is gewilde planne vir mense wat vir die eerste keer aansluit.

Watter dokumente het ek nodig om aansoek te doen?

Wanneer jy om mediesefondslidmaatskap aansoek doen, het jy gewoonlik bewys van identiteit, inkomste en bankbesonderhede nodig, plus inligting oor jou mediese geskiedenis.

Wanneer jy aanlyn by Medihelp aansoek doen, het jy slegs jou mediese geskiedenis en bewys van identiteit nodig indien jy nie ’n Suid-Afrikaanse burger is nie.

In sommige gevalle, soos wanneer jy vir ons studenteplan aansoek doen, die rekening waaruit die maandelikse ledegeld betaal sal word deur ’n trust gehou word, of ’n afhanklike aangeneem is of in pleegsorg is, mag ons vir bykomende dokumentasie vra.

Kan ek enige tyd by ’n mediese fonds aansluit?

Ja, jy kan enige tyd in Suid-Afrika by ’n mediese fonds aansluit. Wagtydperke kan egter toegepas word, afhangend van jou gesondheidstatus en vorige dekking.

Hoe lank neem dit om by ’n mediese fonds aan te sluit?

Dit neem gewoonlik net ’n paar dae om by ’n Suid-Afrikaanse mediese fonds aan te sluit, afhangend van hoe vinnig jou aansoek verwerk en goedgekeur word.

Sodra die aansoek goedgekeur is, begin jou dekking onmiddellik, maar wagtydperke kan steeds van toepassing wees.

Wat is ’n wagtydperk by ’n mediese fonds?

Gedurende ’n wagtydperk is begunstigdes wel lede, maar kwalifiseer hulle nog nie vir voordele nie. Medihelp kan ’n algemene wagtydperk of ’n toestandspesifieke wagtydperk toepas. In sommige gevalle kan ’n wagtydperk wat jy by ’n vorige skema gehad het en nog nie verstryk het nie ook van toepassing wees.

  • ’n Algemene wagtydperk van tot drie maande geld vanaf die datum waarop jy aangesluit het. Gedurende hierdie tyd kwalifiseer jy nie vir enige voordele nie, behalwe vir noodgevalle en voorgeskrewe minimum voordele (VMV's).
  • ’n Toestandspesifieke wagtydperk van tot 12 maande geld vanaf die datum waarop jy aangesluit het. Gedurende hierdie tyd kwalifiseer jy nie vir voordele (advies, diagnose of behandeling) vir ’n gespesifiseerde toestand nie. (Dit sluit VMV's uit.)
  • ’n Wagtydperk wat nog nie verstryk is nie geld indien jou vorige mediese fonds ’n algemene of toestandspesifieke wagtydperk toegepas het wat nog van krag was toe jou lidmaatskap beëindig is.

Wat is die maksimum ouderdom om by ’n mediese fonds aan te sluit?

Daar is geen ouderdomsbeperking om in Suid-Afrika by ’n mediese fonds aan te sluit nie. Indien jy egter ná die ouderdom van 35 aansluit, kan ’n laataansluitingsbelading van toepassing wees.

Kan ek by ’n mediese fonds in Suid-Afrika aansluit as ek reeds ’n gesondheidstoestand het?

Ja, maar jy sal moontlik tot 12 maande moet wag voordat behandeling vir daardie spesifieke toestand gedek word.

Tensy dit onder jou onderskrywingsvoorwaardes uitgesluit is, sal jy steeds vir noodgevalle en ander VMV’s gedek wees.

Waarom moet ek al my mediese inligting deel wanneer ek om lidmaatskap van ’n mediese fonds aansoek doen?

Wanneer jy nie al jou mediese inligting bekend maak wanneer jy aansoek doen nie (soos vorige siektes, simptome of beplande behandeling), staan dit as nie-openbaarmaking bekend. Dit kan ernstige gevolge hê, insluitend dat jou lidmaatskap beëindig kan word.

Om dit te voorkom, moet jy alle gesondheidsinligting oor jouself en jou afhanklikes bekend maak – selfs al het julle die afgelope 12 maande geen behandeling ontvang nie.

Wat is tariewe vir kinderafhanklikes?

Tariewe vir kinderafhanklikes is laer as tariewe vir volwasse afhanklikes. Kinders kan tot die ouderdom van 26 teen ’n kindertarief geregistreer bly. Vanaf die maand waarin hulle 26 word, word hulle ledegeld teen die tarief vir volwasse afhanklikes gehef.

Wie kan as ’n afhanklike op my mediese fonds geregistreer word?

Jy kan enige van die volgende persone as afhanklikes by Medihelp registreer indien jy vir hulle sorg en onderhoud verantwoordelik is:

  • Jou huweliks- of lewensmaat – ongeag of hulle van dieselfde of die teenoorgestelde geslag is
  • Jou kinders – insluitend jou eie kinders, jou lewensmaat se kinders, stiefkinders, aangenome kinders, pleegkinders of kinders wat tydelik in jou veilige sorg geplaas is
  • Jou ouers
  • Jou broers en susters
  • Jou kleinkinders

Jou huweliks- of lewensmaat, kinders of kleinkinders se dekking as nuwe afhanklikes op jou mediese fonds kan onmiddellik begin. Pasgebore babas moet binne 90 dae ná geboorte geregistreer word.