Klik hier om meer te lees oor COVID-19
In hierdie onseker tye voel jy dalk angstig, bang en eensaam. Dis te verwagte. President Cyril Ramaphosa het tereg na die virus verwys as ’n onsigbare vyand waarteen daar wêreldwyd geveg word, en vrees vir die onbekende is ’n natuurlike reaksie op die huidige situasie. Omdat ons nie weet waar die virus skuil nie, is ons hiperversigtig wanneer ons met mense omgaan, aan oppervlaktes raak of moet uitgaan. As ons sien hoe angstig mense om ons is, voel ons nog meer bekommerd, en die konstante stroom nuusberigte oor die COVID-19-pandemie kan verder bydra om angsvlakke te laat styg.
Jy het die volste reg om bekommerd te wees oor jou eie gesondheid, jou geliefdes se welstand asook jou werk en jou finansies. Die inperkingstyd kan egter ook positief gebruik word – as ’n tyd vir nabetragting, loopbaanbeplanning, om kreatief te raak en tyd met familielede deur te bring wat jy nie andersins sou hê nie. Hier’s ’n paar maniere om gemotiveerd te bly en angs te verminder:
1. Ruim jou huis op
Een manier om jou tyd in inperking goed te gebruik, is om ’n opruimingsprojek te begin. Dis heel moontlik nou die perfekte tyd om jou huis ’n beter omgewing te maak om in te leef en te werk, en sommer ook jou geestesgesondheid in die proses te verbeter.
Loop deur jou huis met ’n pen en papier en identifiseer al die areas wat slordig lyk. Onthou om versteekte plekke soos stoorkamers en kaste in te sluit. Begin met een kamer op ’n slag en laat ’n hele dag toe om elke kamer op te ruim. Sorteer die opgegaarde items volgens dit wat jy wil hou, wil weggee en wil verkoop.
2. Maak kontak met ander
Die COVID-19-inperking is ’n uitstekende geleentheid om met vriende en familie kontak te maak deur oproepe, teksboodskappe, WhatsApp-boodskappe, e-pos en ander digitale platforms. Só skep jy ’n gevoel van samehorigheid wat jou die eensaamheid kan laat baasraak en iemand anders laat glimlag. Probeer om kontak te maak met mense van wie jy lanklaas gehoor het of mense in jou gemeenskap wat moontlik sukkel in isolasie. Die ekstra tyd tuis kan ook ’n puik manier wees om met jou naaste familielede kontak te maak en verhoudings te versterk.
3. Hou by ’n roetine
As jy tuis werk, kan jy dalk in die versoeking kom om ’n rustiger leefstyl te volg, maar hou liewer by jou gewone roetine en strukture om standvastigheid te midde van die isolasietydperk te verseker. Staan dieselfde tyd as altyd op, trek aan en maak gereed vir werk asof jy kantoor toe sou gaan. Indien jy gewoonlik om 7:00 ontbyt eet en in die middag oefen, hou aan daarmee. Indien jy kinders het, stel ’n skedule op waarby almal moet hou en sluit tyd in vir skoolwerk, speel en rus. Dit sal help dat julle aktief bly en sal dit makliker maak om weer aan te pas wanneer die inperking verby is.
4. Doen ’n goeie daad – op ’n afstand
Jy kan nou wel nie liefdadigheidswerk buite die huis doen nie, maar jy kan steeds ’n betekenisvolle bydrae tot die samelewing maak uit die gerief van jou huis. Die Suid-Afrikaanse regering het ’n inisiatief geloods waardeur jy kosvoorraad kan borg vir minder gegoede mense. As jy weet van iemand wat bystand tydens die inperking nodig het, kan jy 0800 428 8364 skakel of e-pos stuur na support@gauteng.gov.za om te reël dat ’n kospakkie by hulle afgelewer word.
5. Sorg vir goeie geestesgesondheid
Mense wat met ’n geestesgesondheidstoestand soos depressie, angs of PTSS saamleef, kan gedurende hierdie tyd angstig voel. Daarom is dit baie belangrik dat hulle met hul behandeling sal voortgaan: Kry jou voorskrifmedisyne vir die maand en oorweeg dit om die medisyne tuis te laat aflewer, indien moontlik. Stel ’n noodplan op vir tye wanneer jy nie jou angstigheid oor die pandemie self kan beheer nie, deur byvoorbeeld ’n telefoonafspraak met ’n geestesgesondheidspraktisyn te reël.
Indien jy oorweldig voel, kan jy ook die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG) kontak, wat tydens die inperkingstyd oop sal bly om die publiek te ondersteun. Skakel hulle by 0800 2122 23 (sewe dae per week vanaf 08:00 tot 20:00) of besoek hulle webtuiste by www.sadag.org vir nuttige aanlyn hulpbronne soos brosjures, artikels en selfhelpvideo’s.
6. Bly op hoogte, maar moenie behep wees nie
Dis belangrik om op hoogte te bly, veral van wat in jou gemeenskap gebeur, maar daar is heelwat verkeerde inligting en oordeelsdag-praatjies in die omtrek, so wees selektief oor wat jy lees, kyk en deel. Raadpleeg net betroubare bronne soos die webtuiste
https://sacoronavirus.co.za/.
Beperk ook hoe gereeld jy nuus kyk en skakel die media af indien dit jou begin oorweldig.
7. Fokus op dit wat jy kan beheer
Daar is te veel dinge wat buite jou beheer is, soos die toepassing van die inperkingsmaatreëls en hoe lank dit gaan duur. Fokus dus liewer op dit wat jy wel kan beheer, soos –
• Hou by die riglyne wat in wetgewing voorgeskryf word;
• Moenie onnodig winkels toe gaan nie;
• Hou ’n afstand van een meter of meer tussen jouself en ander mense indien jy buite is; en
• Handhaaf gesonde gewoontes soos om gebalanseerd te eet en gereeld te oefen.
Jy kan Medihelp ook gedurende hierdie tyd volg op ons
sosialemediaplatforms vir nuttige wenke en video’s wat jou wys wat jy als kan doen en hoe om in beheer te bly.