Back 21 Apr, 2021 - Gesondheidsbewustheid | Medihelp-produkte

Back

Die lewensreddende waarde van immunisering vir kinders

Die lewensreddende waarde van immunisering vir kinders

Een van die maklikste maniere om jou baba gesond te hou is om die aanbevole skedule vir immunisering te volg
Read more

Die lewensreddende waarde van immunisering vir kinders

Om ’n baba in die wêreld te verwelkom, is een van die grootste vreugdes in die lewe, en om jou baba ’n gesonde begin in die lewe te gee, behoort jou eerste prioriteit te wees.

Een van die maklikste maniere om dit te doen, is om te sorg dat jou baba al die standaardimmuniserings kry soos deur die departement van gesondheid aanbeveel.

Hoe werk immunisering?

Wanneer jou liggaam in kontak met onbekende selle kom, word die immuunstelsel geaktiveer om teenliggaampies te vorm wat die “indringerselle” kan beveg. Entstof bevat verswakte of onaktiewe deeltjies van ’n spesifieke organisme (patogeen) wat as snellers dien vir die liggaam om ’n immuunrespons (antigene) teen die spesifieke patogeen te ontwikkel. Die entstof kan nie die siekte veroorsaak nie, maar dit stimuleer die nodige immuunrespons.

Waarom moet my kind inentings kry?

Sommige siektes soos polio is verwoestend en kan ernstige en permanente skade aan kinders se gesondheid veroorsaak. Hierdie siektes kan deur eenvoudige inenting voorkom word. Sommige entstowwe word oraal ingeneem en ander word ingespuit.

Die skedule van standaardimmunisering vir kinders

By geboorte:

BCG-immunisering vir TB – ’n orale polio-entstof

6 weke:

  • Oral polio-immunisering
  • Rotavirusimmunisering
  • Gekonjugeerde pneumokokkusimmunisering
  • Immunisering vir difterie en tetanus asook onaktiewe polio-immunisering en haemophilus influenza tipe B- en hepatitis B-immunisering gekombineerd (1)

10 weke:

Immunisering vir difterie, tetanus, asellulêre pertussis (kinkhoes) asook onaktiewe polio-immunisering, haemophilus influenza tipe B- en hepatitis B-immunisering gekombineerd (2)

14 weke:

  • Rotavirusimmunisering
  • Gekonjugeerde pneumokokkusimmunisering
  • Immunisering vir difterie, tetanus, asellulêre pertussis (kinkhoes) asook onaktiewe polio-immunisering, haemophilus influenza tipe B- en hepatitis B-immunisering gekombineerd (3)

6 maande:

Maselsimmunisering (1)

9 maande:

  • Gekonjugeerde pneumokokkusimmunisering
  • Waterpokkiesimmunisering

12 maande:

Maselsimmunisering (2)

18 maande:

Immunisering vir difterie en tetanus asook asellulêre pertussis (kinkhoes) asook onaktiewe polio-immunisering, haemophilus influenza tipe B- en hepatitis B-immunisering gekombineerd (4)

6 jaar:

Immunisering vir difterie en tetanus

Wat gebeur indien my baba ’n inenting misloop?

Dis nooit te laat om in te haal nie. Sê bloot vir jou dokter of die klinieksuster daarvan en hulle sal reël dat jou baba die inenting kry.

Sal my mediese fonds vir die inentings betaal?

Alle Medihelp-lede het voordele vir die volledige reeks inentings vir kinders tot op sewe jaar.

’n Paar nuttige inentingswenke

  • Dis noodsaaklik om rekord te hou van jou baba se inentingsgeskiedenis, aangesien alle skole, klubs, voorskoolse en sportfasiliteite vir kinders bewys van hulle immunisering vereis. Wanneer jou baba die eerste entstof na geboorte ontvang, sal die meeste hospitale ’n kaart aan jou voorsien wat jy vir alle daaropvolgende inentings kan gebruik.
  • Neem altyd die inentingsrekord saam wanneer jy jou baba laat inent. Sodoende kan die dokter of suster wat die baba inent, duidelik sien wat jou baba se inentingsgeskiedenis is en kan hulle die entstof wat hulle toedien, aanteken.
  • Moet nooit jou baba laat inent as hy/sy koors het nie.
  • Indien jou baba ’n ernstige reaksie op ’n vorige inenting gehad het, bespreek dit met jou dokter of klinieksuster voor sy/haar volgende inenting.
  • Raadpleeg jou dokter of klinieksuster as jy vrae of bekommernisse het voordat jy jou baba laat inent.

Sources:

www.medihelp.co.za

www.cdc.gov


Share this on: