Die nasionale departement van gesondheid het bekendgemaak dat die eerste bevestigde geval van COVID-19 (koronavirussiekte 2019) in KwaZulu-Natal aangemeld is.
Wat moet Medihelp-lede doen wat simptome toon?
Lede van Medihelp wat griepsimptome soos koors, hoes en asemhalingsprobleme ervaar, moet hul dokter raadpleeg, veral indien hulle onlangs na hoërisikolande gereis het of in kontak was met reisigers vanuit hierdie lande.
Wat sal die dokter doen?
Die dokter sal hulle uitvra oor hul simptome, die mense waarmee hulle in aanraking was, enige reisgeskiedenis asook oor hul huis- en werksomgewing. ’n Bloedtoets of speekseltoets kan gedoen word om die diagnose te bevestig. Die toetse moet deur
’n staatslaboratorium gedoen word (soos deur die departement van gesondheid aanbeveel) en die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het bevestig dat dit oor die kapasiteit beskik om die diagnostiese toetse vir COVID-19 uit te voer. Die uitslae
is gewoonlik binne ’n paar uur beskikbaar.
Hoe sal Medihelp vir die behandeling betaal?
Medihelp sal die dokter se konsultasies en die koste van die toetsing betaal volgens die mediesefondsplan wat die lid gekies het. Pasiënte wat weens COVID-19 gehospitaliseer moet word, sal gedek wees ingevolge die reëls van hulle planne, en
die hospitaalgroepe het met Medihelp bevestig dat protokolle in plek gestel is om sulke gevalle te hanteer.
Wat word as voorgeskrewe minimum voordele (VMV) betaal?
Die diagnose en bestuur van ongekompliseerde koronavirusinfeksies word nie as VMV-toestande gedek nie, maar die virus kan verskeie komplikasies soos longontsteking asook nierversaking en veelvuldige orgaanversaking veroorsaak, wat wel vir VMV kwalifiseer.
Voorkomende maatreëls
Die virus versprei deur pasiënte wat hoes en nies, aangesien druppeltjies aan oppervlaktes kleef en ander mense besmet. Die volgende is ’n paar belangrike voorkomende maatreëls:
- Pas goeie handhigiëne toe deur gereeld die hande tot by die elmboë met seep en water te was of ’n antiseptiese handreiniger met ’n alkoholbasis te gebruik;
- Ontsmet oppervlaktes waaraan jy gereeld raak, aangesien virusse vir tot 24 uur op ’n oppervlak kan oorleef;
- Moenie aan ’n oppervlak vat en dan aan jou gesig nie;
- Vermy nabye kontak met mense wat ’n respiratoriese siekte onder lede het;
- Stel nienoodsaaklike reisplanne uit totdat die situasie opgelos is; en
- Wees bedagsaam wanneer jy hoes of nies (bedek jou mond en neus met ’n weggooibare sneesdoekie).