Back 12 Mrt, 2024 - Floreer!

Back

Eet en verbeter jou gemoed

Eet en verbeter jou gemoed

ʼn Gesonde liggaam vir ʼn gesonde verstand: eet hierdie kos om jou gemoed te verbeter.
Read more

Navorsing deur Gallup International, , wat die gelukvlakke van duisende mense regoor die wêreld ondersoek het, het Suid-Afrikaners 85ste uit 149 lande geplaas. Maar al wil dit voorkom of Suid-Afrika baie het om oor ongelukkig te wees, kan ons ons gemoed verbeter deur slegs beter na ons liggame te kyk. Met die vordering van gesondheidsnavorsing, word dit duidelik dat alledaagse voedsel moontlik die chemikalieë wat ons gelukkig maak ’n hupstoot kan gee. Hierdie chemikalieë, oftewel hormone, word onder normale omstandighede self deur ons liggaam geproduseer.

Die vier hormone wat jou gemoed kan verbeter

Dopamien

Dopamien is 'n neuro-oordragstof in ons brein. Dit speel ’n sleutelrol in liggaamsfunksies soos motivering, gemoed, fokus en motoriese funksies. Om dopamienproduksie te bevorder, benodig ons lyf voedsel met 'n hoë proteïen- sowel as L-tirosieninhoud. Maar nie net enige proteïene nie, want L-tirosieninhoud is ’n aminosuur wat meestal in proteïene soos eiers, hoender en vetterige vis gevind word.
Ander kos wat kan bydra om dopamienvlakke te verhoog, is appels, piesangs, lemoene, waatlemoen, aarbeie, avokado’s, beet, tamaties, groen blaarvormige groente en sommige bone. ’n Paar stukkies donker sjokolade nou en dan kan ook jou dopamienvlakke verhoog.

Serotonien

Serotonien is verantwoordelik vir die regulering van ons gemoedstoestand en die bevordering van slaap. Lae serotonienvlakke word dikwels met depressie geassosieer. Volgens wetenskaplikes word 90% van serotonien in ons derms geproduseer, en ’n ongelukkige derm lei tot ’n ongelukkige gemoed.
Wetenskaplikes kyk nou na psigobiotika om gesonde en gelukkige derms te bevorder. Hierdie mikroörganismes is ’n tipe probiotika wat ’n invloed op geestesgesondheid het. Hulle word in gefermenteerde kos soos jogurt, kombucha en kefir gevind. Psigobiotika toon verskeie voordele, insluitend die verligting van stres en depressie, die opheffing van ons gemoedstoestand, en selfs die bevordering van ons kognitiewe vermoëns.
Indien jy nie van gefermenteerde voedsel hou nie, kan jy ook jou serotonienvlakke verbeter deur jou inname van komplekse vesels, in die vorm vrugte en groente, te verhoog. Verder kan jy probeer om alternatiewe proteïene soos eiers, neute, sade, tofu of suiwelprodukte te eet.

Endorfiene

Endorfiene word gewoonlik geassosieer met die gevoel van genoegdoening wat ons ná oefening voel. Oefening is ’n uitstekende manier om ons gemoed te verbeter. Navorsing toon dat endorfiene vrygestel word ná net 30 minute van oefening. As jy nie lus is vir ’n intensiewe oefensessie nie, kyk gerus na ons artikel oor alternatiewe en prettige oefenidees.

Endorfiene kry ook ’n hupstoot wanneer ons kakao inneem, ’n bestanddeel in sjokolade. Die brandgevoel wat ons kry wanneer ons pikante rissies en peperige kos eet is die resultaat van kapsaïsien, nóg ’n bestanddeel wat ons gelukkig maak.

Oksitosien

Oksitosien is alombekend as die liefdeshormoon. Dit help ons om goeie verhoudings te bou en om empatie te voel. Wanneer jy jouself en die mense om jou liefhet, is ons gewoonlik gelukkiger en kan ons ook makliker empaties optree. Ongelukkig is dit moeiliker om ons oksitosien deur ons dieet te verhoog.

Natuurlik verbeter ons gemoed as ons kos eet wat ons libido verhoog, soos vye, avokado’s, waatlemoen en sjokolade (weereens op ons lys), maar ons kan ook deur vir onsself of ’n geliefde te kook (of jou troeteldier ekstra aandag te gee) ons oksitosienvlakke verhoog. Ander opsies is joga, om tyd saam met vriende te spandeer, of vriendelik teenoor vreemdelinge op te tree.

Vyf tipes voedsel om te vermy

Laastens, alhoewel ons gunsteling gemorskos tot die vrystelling van dopamien en serotonien kan lei, sal dit op die lang duur bydra tot meer geestesgesondheidsprobleme. Dus is dit beter om kos en drank soos alkohol, kafeïen, verwerkte suikers, versadigde vet en styselbevattende koolhidrate te vermy.

Leer meer oor die verband tussen kos en gemoed:
https://www.realsimple.com/health/mind-mood/mood-boosting-foods
https://www.theguardian.com/food/2019/mar/18/can-you-eat-yourself-happier-nutritional-psychiatry-mental-health
https://www.psychologytoday.com/za/blog/mood-microbe/201908/can-you-eat-yourself-happy
https://www.bbc.co.uk/food/articles/good_mood_food
https://time.com/6344753/food-improve-mood-nutritional-psychiatrists/
https://www.buzzrx.com/blog/foods-that-increase-dopamine
https://www.banyantreatmentcenter.com/2022/03/29/dopamine-foods-boosting-your-mood-naturally-massachussetts/
https://www.healthline.com/health/how-to-increase-endorphins
https://www.health.harvard.edu/mind-and-mood/more-evidence-that-exercise-can-boost-mood
https://lifesciencesintelligence.com/features/enhancing-mental-wellness-with-psychobiotics-the-gutbrain-connection


Share this on: