Back 06 Des, 2024 - Gemeenskapsopheffing

Back

Medihelp Mediese Skema ondersteun kleuterskool in herwinningsgemeenskap

Medihelp Mediese Skema ondersteun kleuterskool in herwinningsgemeenskap

Medihelp ondersteun Bekezela kleuterskool, bied stabiliteit en hoop vir herwinners se kinders.
Read more

Onder die skuiling van ʼn brug in die woelige hart van Newton, Johannesburg, is Bekezela: ʼn helder kleuterskoolparadys in ʼn informele nedersetting met dieselfde naam. Hier skaterlag kinders terwyl hulle speel met hul speelgoed uit herwinde materiaal in ʼn skooltjie wat heeltemal uit afval gebou is. Helder kunswerke kikker die ruimte op en bring vreugde en vrolikheid na die andersins vaal omgewing.

Die kleuterskool het sy ontstaan in die diep begeerte en visie van vier passievolle vrywilligers: Melphy Silwana, Funeka Mbadu, Noluthando Ngema en opsigter Justin Ngozo.

Die meerderheid mense wat in die Bekezela informele nedersetting woon, is herwinners wat sonder ophou werk om die stad se herwinningsmateriaal te versamel. Vir hierdie gesinne is elke dag ʼn gesukkel, en hul kinders verdien ʼn blink toekoms. Met liefde in oorvloed en vasberadenheid maar geen formele opleiding nie, het die groepie ʼn stowwerige hoekie in ʼn toevlugsoord vir nuuskierigheid, wonder, skoonheid, vreugde, speel, leer en veiligheid omskep.

Gelukkige toeval

Vroeg in 2022 was daar ʼn deurslaggewende oomblik vir die gemeenskap. Mimosa Skool in Aucklandpark, Johannesburg –  ʼn skool wat die Reggio-filosofie volg en glo in ʼn kindgerigte leerbenadering om kinders in die gemeenskap sigbaar te maak – het paaie met die African Reclaimers Organisation gekruis. Die tydsberekening was ideaal, aangesien die organisasie op die punt was om hul eerste skoolkamer in die herwinningsgemeenskap op te rig.

Hierdie gelukkige toeval en die samewerking wat gevolg het, verander nou lewens. Elke Woensdag mentor en ondersteun die Mimosa-onderwysers vir Melphy, Silwana en Funeka. Saam deel hulle ervarings, insigte, leerkontekste, uitdagings en, bowenal, die oortuiging dat Reggio-onderrig die siklus van armoede kan breek.

Gemeenskapsbetrokkenheid

Die nuus het versprei en die Mimosa-gemeenskap het die inisiatief heelhartig aangegryp. Hulle verstaan dat hul ondersteuning van Bekezela ʼn belegging in die toekoms van hul stad se kinders is. Die skool organiseer byeenkomste en nooi vrywilligers om deel te neem, wat bande bou en deernis onder ouers, versorgers en die gemeenskap kweek.

Klein toelaag

Die Bekezela-onderwysers ontvang opleiding van Mimosa Skool en die Africa Reggio Emilia Alliance om kreatiewe, innoverende gehalte-onderrig te verseker, maar die onderwysers is afhanklik van skenkings vir hul salarisse en hulle ontvang dikwels geen betaling nie. Hulle kan ook nie meer ʼn klein ete aan die kinders voorsien nie. As ʼn gevolg het sekere kinders die skool vroeg verlaat of net glad nie skool toe gekom nie.

Ruim ondersteuning van Medihelp Mediese Skema

Vanweë Melphy, Funeka, Noluthando en Justin se onbaatsugtige werk, het Medihelp Mediese Skema ingetree met ruim ondersteuning. Dié steun verseker ʼn beskeie salaris van R2 200 per maand vir minstens die volgende 18 maande vir die onderwysers en befonds toerusting vir die kleuterskool se kombuis. Die vrywilligers kan nou een voedsame ete per dag voorsien.

Die vennootskap met Medihelp Mediese Skema voorsien finansiële stabiliteit en lig die gemoed van die gemeenskap. Te danke aan die skenking wat kommer oor geld iets van die verlede maak, kan onderwysers fokus op dít wat saak maak: die bou van ʼn stewige grondslag vir die kinders om in ʼn onseker wêreld te floreer.

Goedhartigheid is die nuwe in-ding

“Ons is dankbaar vir die geleentheid om goedhartigheid te betoon. Ons bewonder die dapperheid en kreatiwiteit van die vrywilligers en kinders. Ons verstaan die waarde van gemeenskap en samewerking – dit wys dat iets moois uit samewerking voortspruit,” sê Lien Potgieter, Hoof van Bemarking by Medihelp.


Share this on: