Back 24 Des, 2020 - COVID-19

Back

Kommer oor nuwe COVID-19-variant in Suid-Afrika

Kommer oor nuwe COVID-19-variant in Suid-Afrika

’n Nuwe koronavirusvariant is die oorsaak van ’n tweede golf COVID-19-infeksies in Suid-Afrika en kan selfs vinniger as die aanvanklike virus versprei.
Read more

’n Nuwe koronavirusvariant is onlangs in Suid-Afrika geïdentifiseer en kenners meen dit is die oorsaak van ’n tweede golf COVID-19-infeksies in die land.

Die minister van gesondheid, dr Zweli Mkhize, het op 18 Desember bekendgemaak dat die nuwe variant, bekend as "501.V2-variant", deur Suid-Afrika se genomikawetenskaplikes in Nelson Mandelabaai geïdentifiseer is, hoewel dit onseker is of die variant daar ontstaan het. Dit blyk dat die virus vinniger versprei en ’n hoër virale lading as die oorspronklike virus het.

Prof Salim Abdool Karim, ’n epidemioloog en kenner van aansteeklike siektes, het die media meegedeel dat dit nog onduidelik is hoe ernstig die virus is, maar die feit dat die variant so blitsig in Suid-Afrika dominant geword het, was onverwags. “Terwyl ander virusse nog oorgedra word, versprei hierdie virus soveel vinniger. Wanneer ons siftings doen, sien ons hierdie dominante variant. Dit kan uiteindelik tot ’n tweede infeksiegolf lei waarin daar meer gevalle as tydens die eerste golf is,” het Karim voorspel.

’n Hoër virale lading kan aanleiding gee tot makliker oordrag, wat weer tot ’n hoër reproduktiewe koers (R0) kan lei – die gemiddelde getal infeksies wat ’n enkele aansteeklike persoon in ’n populasie sonder immuniteit veroorsaak, verduidelik Karim.

Dit blyk ook dat die nuwe variant jong mense meer affekteer as voorheen. Volgens Mkhize het klinici ’n verandering in die “kliniese epidemiologiese prentjie” waargeneem, en is daar merkbaar meer jong mense sonder komorbiditeite wat ernstig siek word.

Die nuwe stam het tussen 10 en 20 mutasies wat nie voorheen in Suid-Afrika in virusse opgemerk is voor September 2020 nie. Dieselfde variant is in die Verenigde Koninkryk en Australië geïdentifiseer, maar kenners meen dat Suid-Afrika se variant baie meer wydverspreid is.

Kenners is dit sover eens dat dit te vroeg is om te sê of die variant erger as die oorspronklike virus is. Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) raai die publiek aan om waaksaam te bly en steeds die COVID-19-gesondheidsprotokolle na te kom, insluitend om maskers in die openbaar te dra, gereeld hande te was of te ontsmet, en ’n afstand van 1,5 m van ander mense te handhaaf.

Om die vlak 1-regulasies vir die COVID-19-pandemie te lees, klik hier.

COVID-19-toetsing

Medihelp mediese fonds bied omvattende dekking op alle Medihelp-opsies vir die behandeling van COVID-19 binne en buite die hospitaal wat voldoen aan die kriteria vir voorgeskrewe minimum voordele (VMV). Ons het ’n lys saamgestel van algemene kwelvrae en antwoorde oor Medihelp se COVID-19-voordele, insluitend die siftings- en toetsingsproses, wat jy hier kan lees: https://www.medihelp.co.za/docs/default-source/newsletters-and-other-communication/covid-19-q-a-afr.pdf

Bronne:


Share this on: