Back 20 Feb, 2026 - Floreer!

Back

Verskillende liefdestale – een gesonde hart

Verskillende liefdestale – een gesonde hart

Leer hoe die vyf liefdestale jou hart se gesondheid kan ondersteun.
Read more

Verskillende liefdestale – een gesonde hart

Jy het waarskynlik al van die liefdestale gehoor. Hierdie idee, wat deur pastoor en skrywer Gary Chapman bekendgestel is, veronderstel dat elkeen van ons ’n manier het hoe ons verkies om liefde te wys. Hierdie maniere is: woorde van aanmoediging, dade van diens, geskenke, fisiese aanraking en gehaltetyd.

Maar hier’s ’n gedagte: net soos dit belangrik is om vir die mense in jou lewe te wys jy waardeer hulle, is dit ook belangrik om vir jouself om te gee. Só kan jy die liefdestale op jou eie hartgesondheid toepas.

Fisiese aanraking: Sorg vir jou liggaam

’n Drukkie of ’n handdruk, dit maak nie saak nie. Die uitwerking is dieselfde. Binne minute van iemand aanraak (of aangeraak word), stel jou brein oksitosien vry, ’n hormoon wat noodsaaklik is om bande te smee. Oksitosien help ook om buie te reguleer en angs te verminder.

Aanraking stimuleer ook die vrystelling van dopamien en vasopressien, twee ander goedvoel-hormone wat bydra tot algehele welstand. Dis hoekom ’n drukkie werklik help wanneer jy moedeloos voel of waarom jy nader aan iemand voel wanneer hulle aan jou arm raak terwyl julle gesels.

Daar is natuurlik ook ander maniere om daardie selfde aangename gevoel te kry. Rustige oefening soos stap, strekoefeninge en joga is veral doeltreffend. Dit verlaag kortisol (die streshormoon) en stel endorfiene vry, die liggaam se pynstillers. Maar pasop: oefening wat té straf is, kan juis druk op die liggaam plaas. Luister altyd na jou liggaam, en as daar pyn is of jy uitgeput voel, neem ’n blaaskans.

Woorde van aanmoediging: Sorg vir jou gees

Baie van ons is hard op onsself in moeilike situasies. Ons raas met onsself wanneer ons eerder onsself moet aanmoedig. Maar sou jy so met jou beste vriend praat? En hoekom maak dit saak? Wanneer die boodskappe wat jy vir jouself gee vriendelik of positief is, bou dit jou selfvertroue, wat jou help om gemotiveerd, bevoeg en selfversekerd te voel.

As dit vir jou moeilik is, probeer ’n dagboek en bewustheid. Dis ’n goeie manier om jou gedagtes dop te hou. Só groei jy van ‘hoe kon ek dit so verkeerd gedoen het?’ tot ‘ek doen my bes, en hoe meer ek weet, hoe beter kan ek dit doen’. As jy ’n ekstra hupstoot nodig het om hierdie ingesteldheid te kweek, oorweeg dit om met ’n geestesgesondheidspraktisyn te praat om dieper kwessies aan te spreek en jou toe te rus vir moeilike situasies.

Gehaltetyd: Wees teenwoordig vir jou gesondheid

Waaraan dink jy op die oomblik? Die kans is goed dat dit sperdatums of ’n eindelose lys take is – beslis belangrike bekommernisse, maar wanneer laas het jy tyd ingeruim vir pret? Baie van ons voel skuldig wanneer ons tyd aan nuwe stokperdjies of bloot ontspan afstaan. Die samelewing laat ons glo dat produktiwiteit altyd eerste moet kom.

Maar om tyd saam met die mense en dinge wat jy liefhet te spandeer, verminder nie net spanning nie (wat noodsaaklik is vir geestesgesondheid), dit bevorder uiteindelik ook produktiwiteit en kreatiwiteit. Tyd wat jy bestee aan dinge wat jou vreugde bring in plaas van dinge wat jy “moet” doen, is ’n kortpad na geluk.

Dade van diens: Klein dinge wat ’n groot verskil maak

Het jy geweet dat dinge vir ander mense doen ook voordele vir jóú inhou? Dade van diens – of dit nou vrywilligerswerk vir ’n saak wat jou na aan die hart lê, bloedskenk of bloot ’n guns vir ’n vriend is – help om gemeenskaplike bande te smee, ’n sleutel tot geestelike welstand. Dit stimuleer ook daardie goedvoel-hormone, dopamien en oksitosien. En omdat ons oor onsself goed voel wanneer ons ander help, bou dit ook ons selfbeeld.

En terwyl jy na ander omsien, moenie vergeet van jouself nie. Selfversorging gaan nie net oor borrelbaddens en pamperlang nie. Dis ook die moeilike (en minder lekker) dinge soos voorkomende sorg. ’n Cholesteroltoets of mammogram is klein maniere om jou gesondheid en geluk in die toekoms te verseker.

Geskenke: Belê in jou toekomstige self

Ons neem basiese dinge soos slaap en voedsame kos dikwels as vanselfsprekend, maar dis die grondslag van goeie gesondheid. Het jy geweet dat slaap byvoorbeeld jou hartgesondheid bevorder deur bloeddruk te reguleer en te help met gewigsbestuur? Dit help ook om inflammasie, wat met hartsiektes verband hou, te verminder.

Jou dieet is nog ’n belangrike bousteen van ’n gesonde hart. Kies kossoorte soos olierige vis (ryk aan beskermende omega-3-vetsure), volgraankos (uitstekend vir die verlaging van cholesterol), neute, sade en peulgewasse.

Dis natuurlik egter net die begin. Soms het ons nog ’n bietjie sorg nodig. Luister dus gereeld na jou liggaam: moet jy ’n sielkundige spreek? Is dit tyd vir ’n vakansie sodat jy nie uitbrand nie? Onthou dat hierdie dinge nie luukshede is nie – dis beleggings in jou toekomstige welstand.

Enige liefdestaal sal werk

Dit maak nie saak watter liefdestaal jy kies nie. Elkeen het die potensiaal om jou hart – en jou algehele gesondheid – ingrypend te verbeter. Elke stap wat jy neem om jou fisiese welstand te koester en jou geestesgesondheid te beskerm, tel. En om na jouself om te sien, is die grootste daad van liefde.

Geskryf vir Medihelp deur Lisa Witepski


Share this on: