Back 07 Mei, 2025 - Medihelp

Back

Old Mutual en Medihelp reageer met geïntegreerde gesondheid- en welstandoplossings

Old Mutual en Medihelp reageer met geïntegreerde gesondheid- en welstandoplossings

Medihelp en Old Mutual Corporate tree in samewerking om geïntegreerde gesondheids- en finansiële welstandsoplossings aan Suid-Afrikaanse werkgewers en hul werknemers te bied.
Read more

In die lig van die toenemende ekonomiese las van siekte, sielkundige spanning en finansiële onsekerheid, kyk Suid-Afrikaanse werkgewers met nuwe insigte na hoe hulle hul mense ondersteun. Navorsing van Old Mutual (die sogenaamde Workplace Benefits Primary Research wat in 2024 deur LIMRA uitgevoer is), het aangedui dat 84% van werknemers tevrede is met hulle voordele. Een uit vyf meen egter dat daar steeds gapings is, veral rondom geïntegreerde ondersteuning vir gesondheid, finansies en emosionele welstand.

Hierdie bevindinge weerspieël ’n breër verskuiwing in die benadering tot werknemerondersteuning: dat dit die doeltreffendste is wanneer gesondheid met finansiële en emosionele welstand geïntegreer word.

In reaksie op hierdie dringende behoefte aan meer mensgesentreerde ondersteuning, het Old Mutual Corporate en Medihelp Mediese Skema kragte saamgesnoer om ’n nuwe oplossing bekend te stel wat mediese dekking en finansiële beskerming in een geïntegreerde voordelestruktuur saamvoeg. Die samewerking steun op Medihelp se 120‑jaar-lange erfenis van leierskap in gesondheidsorg en Old Mutual se 180 jaar in die Suid-Afrikaanse versekeringsektor. Old Mutual is ook ’n toonaangewende verskaffer van tradisionele aftreevoordele en groepsrisikodekking wat op die komplekse, verweefde behoeftes van vandag se werksmag toegespits is.

Werkgewers besef dat mense nie in afsonderlike boksies leef nie

“Werkgewers begin besef dat mense nie hul lewens in aparte hokkies opdeel nie,” sê Humphrey Mkwebu, Algemene Bestuurder by Old Mutual Corporate. “Gesondheid, finansies en emosionele welstand is nou verweef. Hierdie samewerking bied ’n manier om holisties te reageer – sonder om onnodige kompleksiteit vir werkgewers te skep.”

Deur gesondheids- en finansiële voordele in een gestruktureerde pakket saam te voeg, beoog Medihelp en Old Mutual Corporate om vir werkgewers ’n model te bied wat pas by hoe mense vandag leef en werk. Terselfdertyd wil hulle ook meer bekostigbare en inklusiewe voordele bevorder – veral in sektore met groot inkomsteverskille en beperkte toegang tot tradisionele dekking.

“By Medihelp glo ons dat gesondheidsorg plek moet inruim vir die volle diversiteit van mense se lewens – of jy nou kreatief, ambisieus, gesondheidsbewus, saggeaard of iets tussenin is,” sê Medihelp se Hoofbeampte, Varsha Vala. “Die samewerking versterk ons verbintenis daartoe om relevant en volhoubaar te bly. Deur met Old Mutual saam te werk kan ons meer mense bereik sodat meer Suid-Afrikaners toegang het tot gesondheidsorg wat dinamies en betroubaar is en by die werklikhede van vandag se lewe pas.”

’n Strategiese stap vir inklusiewe werknemerondersteuning

Deur hierdie samewerking en ander vennootskappe kan Old Mutual Corporate nou aan sy kliënte ’n volledige reeks voordele bied. Dit sluit Medihelp Mediese Skema-dekking in, gesondheidsversekering, gapingsdekking, ’n werknemerbystandsprogram, asook tradisionele aftreefondse en groepsrisikovoordele.

“Ons glo dat volhoubaarheid nie net oor finansiële standvastigheid gaan nie; dit gaan oor toepaslikheid, verantwoordelikheid en veerkragtigheid,” voeg Mkwebu by. “Deur hierdie samewerking verbind ons ons daartoe om aan mense groter sekerheid en ondersteuning in hulle lewens te bied – nie net deur tradisionele werknemervoordele nie maar deur beter te belyn met wat dit vandag beteken om te floreer.”

Gesondheidsorgkoste, chroniese siektes en inkomste-ongelykheid is aan die toeneem. Om hierdie uitdagings aan te pak, bied die samewerking tussen Old Mutual en Medihelp ’n betekenisvolle en deurdagte antwoord op een van die grootste vrae in moderne werksmagstrategie: hoe verseker ons dat mense nie net gesond genoeg is om te werk nie, maar gesond genoeg om voluit te leef?

Medihelp is ‘n gemagtigde verskaffer van finansiële dienste (FSP No 15738).
Old Mutual Life Assurance Company (SA) Beperk is ’n gelisensieerde FDV en lewensversekeraar.


Share this on: