Omicron-feiteblad
Die Omicron-variant van die SARS-CoV-2-virus wat COVID-19 veroorsaak en formeel as B.1.1.529 bekend staan, is vir die eerste keer op 24 November 2021 uit Suider-Afrika aan die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) gerapporteer.
Hoe verskil dit van vorige stamme?Hierdie variant het omtrent 30 mutasies op die stekel-proteïen wat kommer wek oor hoe maklik dit versprei en die erns van siekte wat daardeur veroorsaak word.
Waar is Omicron vir die eerste keer geïdentifiseer?Omicron is vir die eerste keer in Botswana geïdentifiseer, maar daar word nou geglo dat die variant reeds in Europa teenwoordig was voordat die eerste gevalle in Suider-Afrika gerapporteer is.
Is dit meer aansteeklik as vorige variante?Dit blyk dat herinfeksie met Omicron meer waarskynlik is, aangesien dit vermoedelik die vermoë ontwikkel het om natuurlike immuniteit van vorige infeksie te ontduik. Omicron versprei ook baie vinniger as die Delta-variant. Volgens vroeë ontleding versprei Omicron twee keer so vinnig en is dit meer as drie keer so geneig om mense te herbesmet as ander variante.
Wat is die simptome van die nuutste variant?Op hierdie stadium blyk dit dat Omicron met verkoue- of griepagtige simptome geassosieer word en dit is nie moontlik om op grond van die kliniese beeld alleen tussen hierdie variant en ander variante te onderskei nie. Soos met die ander variante, is sekere individue asimptomaties.
Geld dieselfde toetse en behandeling steeds vir Omicron?’n Polimerase-kettingreaksietoets (PKR-toets) kan tussen Omicron en die ander variante onderskei. Volgens die WGO word Omicron nie anders as Delta en die ander virusafstammings bestuur nie.
Is Omicron gevaarliker as ander variante?Daar is vroeë aanduidings dat Omicron minder ernstige siekte as vorige stamme veroorsaak, en hospitaalopnames neem nie teen ’n kommerwekkende tempo toe nie. Dit is egter voortydig om gevolgtrekkings op grond van klein, vroeë verslae te maak. Die relatiewe matigheid van die siekte kan toegeskryf word aan die jonger ouderdom van individue wat op hierdie stadium van die oplewing geraak word, en aangesien daar dikwels ’n vertraging is tussen die aanvang van simptome en respiratoriese komplikasies, kan die omvang van kliniese erns moontlik vir ’n hele paar weke onduidelik wees.
Loop sommige mense ’n groter risiko?Daar is nog baie feite oor Omicron wat onbekend is, onder meer of dit bevolkings met ’n hoër risiko raak, soos bejaardes of immuungekompromitteerde persone wat met vorige variante die geval was. In sommige lande word die hoogte koerse van gerapporteerde COVID-19-infeksies in kinders waargeneem, maar dit is nog nie bekend of daar ’n hoër risiko vir ernstiger simptome is en of dit kinders anders sal affekteer as wat met vorige variante van die virus die geval was nie.
Hoe kan ek myself beskerm?Basiese gesondheidsprotokolle kan die risiko van COVID-19 verlaag, soos om ’n masker te dra, gereeld hande te was of te ontsmet en om saamgedronge of geslote ruimtes te vermy. Inenting word steeds as die beste beskerming teen ernstige siekte beskou. Navorsing word gedoen om die effek van die huidige beskikbare entstowwe op die nuwe variant te bepaal.
Medihelp se COVID-19-voordeleAlle Medihelp-lede het toegang tot voordele vir COVID-19-inenting en behandeling as VMV (voorgeskrewe minimum voordele), wat nie die beskikbare voordele in hulle onderskeie Medihelp-voordele-opsies sal beïnvloed nie.
Jou Medihelp aanlyn hulpbronsentrumJy is altyd welkom om Medihelp se COVID-19-webblad te besoek vir toegang tot omvattende inligting oor die virus, inenting, behandeling en talle verwante onderwerpe.