Back 24 Feb, 2025 - Floreer!

Back

Meer as kinderspeletjies: Moet volwassenes meer speel?

Meer as kinderspeletjies: Moet volwassenes meer speel?

Ons weet kinders moet speel. Maar het jy geweet speel is net so voordelig vir volwassenes?
Read more

Die idee dat kinders moet speel, is niks nuuts nie. Dekades se navorsing wys hoe belangrik speel vir kinders se ontwikkeling is. Gereelde en ongestruktureerde spel help kinders om hul kognitiewe, emosionele en sosiale vaardighede te slyp, hul liggaamlike gesondheid te verbeter en beter motoriese vaardighede te ontwikkel. Maar het jy geweet dat speel net so goed is vir volwassenes?

Speel maak ons slimmer, gesonder en gelukkiger

Peter Gray, ’n vooraanstaande navorsingsprofessor aan Boston College in die VSA wat speel vanuit ’n evolusionêre en biologiese perspektief bestudeer, glo ons leef in ’n werkbehepte samelewing waar volwassenes vergeet het hoe om te speel. Hy redeneer dat speel, nes in die diereryk, meer as voordelig is – dis noodsaaklik vir ons oorlewing.

Volwassenes wat speel, is oor die algemeen gesonder as dié wat net werk en nooit speel nie. Hulle het laer bloeddruk, beter cholesterolvlakke en is oor die algemeen fikser. Hulle is ook emosioneel en sosiaal beter toegerus om angs te hanteer. Wat miskien die interessantste is, is dat speel ook kognitiewe funksionering in volwassenes verbeter.

Gray verwys na studies wat toon dat soogdiere met die grootste breine die meeste speel. Dit bewys dat ons, as die mees intelligente spesie op aarde, dit ook moet doen. Hy wys ook op voorbeelde in die diereryk waar die drang om te speel selfs jaginstinkte oorwin het. Dit versterk sy oortuiging dat speel ’n ingebore behoefte is: ’n noodsaaklike hulpmiddel vir ’n langer, gesonder lewe.

Gemaak om te speel

Liezl Thom, gekwalifiseerde praktisyn in neurolinguistiek, meesterafrigter in lewenstransformasie en meervoudigebreinintegrasie-afrigter, glo dat speel noodsaaklik is vir ’n langer, gesonder en gelukkiger lewe. Sy help gereeld haar kliënte om spel by hul daaglikse roetines in te werk. Sy beaam Gray se siening.

"Speel is noodsaaklik vir ’n langer, gesonder en gelukkiger lewe.”

Liezl verduidelik dat neurowetenskaplike navorsing wys dat mense biologies ingestel is om te speel. “Ons het ’n ingebore dryfveer om aan spelaktiwiteite deel te neem, danksy toegewyde senuweebane in ons breine wat deur speelse stimuli geaktiveer word,” sê sy. “Daar is spesifieke dele in die middelpunt van die brein wat bekend staan as speelbane (play circuits). Wanneer hierdie dele geprikkel word deur elemente in die omgewing wat speel uitlok, “maak dit die begeerte om te speel wakker."

Fisiologies gesproke is dit dus onnatuurlik om nié te speel nie. Speel word al hoe meer gesien as ’n basiese behoefte – dis amper so belangrik soos kos en skuiling. Die positiewe uitwerking is duidelik. “Mense wat gereeld speel, het ’n ligter uitkyk op die lewe,” verduidelik Liezl. “Dit kan die glinstering in hul oë wees of die feit dat hulle meer ontspanne voorkom. Wat ook al die rede, dit lyk of speel die verouderingsproses vertraag.”

“Speel word al hoe meer gesien as ’n basiese behoefte – dis amper so belangrik soos kos en skuiling.”

Maak die lewe jou speelplek

Kenners stem saam dat speel die grootste voordele inhou wanneer dit bloot vir die genot daarvan gedoen word, sonder ’n spesifieke doel voor oë. Liezl is dit eens en beskryf speel as enige aktiwiteit wat jou betrokke, opgewonde en kreatief laat voel. “Of jy nou vriende oornooi vir ’n moordraaiselaand, met jou hond gaan stap, ’n vlieër vlieg, met lemoene jongleer of lyndanslesse neem, as dit vir jou vreugde bring en ’n gevoel van vryheid skep, kan dit as speel beskou word.”

Maar hoe prioritiseer ’n lewensafrigter self spel? Liezl glo dit gaan net soveel oor ingesteldheid as oor die aktiwiteit self. “Ek is baie bewus van die taal wat ek gebruik. Wanneer ek ’n koffiekuier of selfs ’n opleidingsessie met ’n vriend reël, noem ek dit ’n speelkuier (play date). Ek het ook doelbewus besluit om soveel Vrydagmiddae as moontlik oop te hou vir speelkuiers.”

Sy pas dieselfde beginsel in haar werk toe deur met ’n speelse gesindheid en nuuskierigheid te werk. “‘Doen wat jy liefhet en jy sal nooit ’n dag werk nie.’ Ek vind groot vreugde in my werk en benader dit met dieselfde gevoel van pret en verwondering waarmee ek ’n speletjie benader.”

“Wanneer ek ’n koffiekuier of selfs ’n opleidingsessie met ’n vriend reël, noem ek dit ’n speelkuier.”

Liezl se wenke vir volwassenes wat meer wil en moet speel

  • Beplan tyd vir speel
    Maak tyd vir pret, al is dit net ’n paar minute per dag. Anders, wat is die punt?
  • Breek jou roetine
    Breek die eentonigheid van jou dag deur kort speelpouses in te werk. Speel vinnig kaarte, bou ’n legkaart of krabbel ’n bietjie. Hierdie kort oomblikke van speel gee jou energie.
  • Inkorporeer spel in jou werkplek
    Skep ’n meer kreatiewe en samewerkende werkplek met aktiwiteite wat speel aanhits. Breinstormsessies, spanbou-aktiwiteite en vriendelike kompetisies kan die werksomgewing ophelder.
  • Benut geleenthede vir speelse interaksies
    Speel met jou troeteldiere, familie of vriende. Reël ’n speletjiesaand, gaan stap of speel ’n vriendelike sportwedstryd. Om met ander te speel bou verhoudings en skep spesiale herinneringe.
  • Wees spontaan
    Laat jouself toe om onverwagte oomblikke te verwelkom. Sê ja vir spontane avonture, probeer iets nuuts sonder beplanning of neem ’n ander roete huis toe.

So, daar het jy dit. As jy wil floreer, verander jou ingesteldheid en speel meer. Hoe meer nutteloos, hoe beter. Jy sal slimmer, gelukkiger en gesonder wees. Enige iemand lus vir lyndans?


Geskryf vir Medihelp deur Maritha Broschk


Share this on: