Medihelp, een van die vyf grootste mediese skemas in Suid-Afrika, se ledetal het in 2022 organies gegroei en die Skema dek nou 94 821 hooflede en 205 771 afhanklikes. Die syfers dui op netto groei van 8,65%.
Medihelp het onlangs sy 2022 Jaarverslag vrygestel en opgemerk dat dié groeiresultate in ’n trae ekonomie ’n teken is dat sy strategie werk; ’n strategie wat lede se belange voorop stel. Die Skema het van sy produkvoordele uitgebrei, twee nuwe produkte bekendgestel, en die reserwes wat hy tydens die COVID-19-pandemie opgebou het, gebruik om ’n algehele gemiddelde tariefverlaging van 0,45% in 2022 in te stel. “Dit was ’n dapper skuif en ’n eerste vir die bedryf. En ons lede het gereageer deur by Medihelp te bly. Ons het 90,1% van ons lede deur die jaar behou, wat ’n merkbare verbetering in vergelyking met die vorige jaar was. Die feit dat sowat 40% van Medihelp-lede langer as tien jaar aan die Skema behoort, spreek ook boekdele oor lede se tevredenheid met ons produkte en diens,” het ’n Medihelp-woordvoerder gesê.
Die mededingende tariewe en voordele, sowel as Medihelp se nuwe produkaanbieding het ook jong, gesonde individue gelok en die organisasie het sy gemiddelde ouderdomsprofiel gehandhaaf.
Medihelp het die jaar met ’n gesonde solvensievlak van 33,79% afgesluit, wat vêr bo die wetlik vereiste reserwevlak van 25% is. Die Skema het ook weer finansieel bestendig presteer en het vir die 15de agtereenvolgende jaar ’n AA- gradering vir sy eisebetalingsvermoë en finansiële bestuur van die internasionale graderingsagentskap Global Credit Rating ontvang.
Nog ’n pluimpie vir ons diens
As ’n spesialis in die bestuur van individuele lede, is Medihelp nog altyd bekend vir sy uitstekende kliëntediens, en verlede jaar was geen uitsondering nie. Die Skema het die tweede algehele plek behaal in die toonaangewende Ask Afrika Orange-opname. Medihelp is ook hoog aangeslaan in die SA-csi internasionale indeks wat in die mediesefondssektor gedoen is, met ’n merkbare verbetering in ledetevredenheid.
Meer oor Medihelp
Medihelp is een van die vyf grootste oop mediese skemas in Suid-Afrika en het ervaring van 118 jaar. Ons neem self verantwoordelikheid vir die administrasie van ons ledebasis, wat bestaan uit individuele lede regoor die land, sowel as ’n portefeulje van korporatiewe kliënte. Op 26 Junie 2023, dek Medihelp sowat 98 000 hooflede en bykans 210 000 afhanklikes.
Vir meer inligting en onderhoude
Vir meer inligting, besoek www.medihelp.co.za/af/tuis.
Kry ’n afskrif van ons jaarverslag op die volgende skakel:
https://www.medihelp.co.za/docs/default-source/agm/2023/medihelp---jaarsverslag-2022.pdf
Vir enige medianavrae, stuur asseblief u besonderhede na marketing@medihelp.co.za.