Nie een van ons het op 45 dieselfde liggaam as op 25 nie. Almal se liggame verander met ouderdom, maar vroue ervaar groot hormonale veranderinge wat byna elke aspek van hoe die liggaam funksioneer, beïnvloed. As jy verstaan wat verander, en hoekom, kan jy in elke lewensfase beter na jou gesondheid omsien.
Onthou jy toe jy nog tot vyfuur die volgende oggend kon dans en steeds stralend wakker word? Ja, nè …
Hier is wat jy kan verwag soos jou liggaam oor die verskillende dekades van jou lewe verander, en hoe jy elke tree van die pad gesond kan bly en op jou beste kan voel. Hoewel hierdie veranderinge ’n normale deel is van ouer word, ervaar elke vrou dit anders. Jy mag baie van hierdie simptome hê, net ’n paar, of so te sê niks daarvan nie.
Jou 20’s: Jou liggaam se natuurlike piektydperk
Jou 20’s voel dikwels chaoties. Jy verdien jou eerste salaris, het vir die eerste keer grootmensverantwoordelikhede en jy moet uitpluis wie jy werklik is. Maar wat liggaamlike gesondheid betref, is dit waarskynlik een van die maklikste tye van jou lewe. Jou metabolisme werk in jou guns. Jy het hope energie. Jou vel herstel vinnig. En dis maklik om te voel asof niks jou kan onderkry nie.
Maar dit is ook die jare – ’n goue geleentheid – om gewoontes te bou wat jou gesondheid sal ondersteun in die dekades wat voorlê.
Dit is nóú die tyd om:
- Met jou gesondheidsorgkundige te gesels oor geskikte voorbehoeding (die verkeerde keuse kan ’n groot invloed op jou gesondheid hê).
- ’n Gereelde oefenroetine uit te werk. Die spierkrag wat jy nou opbou, sal jou gesondheid dekades lank ondersteun.
- Doelbewus stres te bestuur (al beteken dit net dat jy soms "nee" sê).
- Die beginsels van gesonde eetgewoontes aan te leer. Dink daaroor as voeding, nie straf nie.
Jou 30’s: ’n Balanseertoertjie
Teen hierdie tyd het jy waarskynlik meer verantwoordelikheid by die werk, wat meer druk en meer besluite beteken. Terselfdertyd word baie vroue in hierdie dekade ma's. As jy nog nie kinders het nie, kan dit die tyd wees wanneer vrae oor vrugbaarheid belangriker begin word.
Rondom hierdie tydperk kan jou hormoonvlakke geleidelik begin daal. Jy kan moontlik die volgende dinge opmerk:
- Gemoedskommelings. Die een oomblik is alles piekfyn, en as jy weer sien, raak jy onverwags emosioneel oor ’n skilpad wat aan ’n blaar kou.
- ’n Menstruele siklus wat moontlik minder voorspelbaar word.
- Uitputting wat erger voel as gewone moegheid.
Ondersteun jouself só:
- Oefening is noodsaaklik, nie net om jou liggaam sterk te hou nie, maar ook om stres te beheer. Bly aktief al is jy swanger, maar gesels met jou gesondheidsorgkundige oor wat veilig is en wat nie.
- Kweek gesonde gewoontes, soos om minder tabak en alkohol te gebruik en om elke aand, sover die lewe dit toelaat, sewe tot agt ure goeie slaap te kry.
- Nou is ook die tyd om gereeld gesondheidsondersoeke te laat doen. Vra jou dokter oor sifting vir servikale kanker, diabetes en hoë bloeddruk.
Jou 40’s: Die groot veranderinge
Dan breek jou 40’s aan: die dekade waarin jou liggaam haar sagteware opdateer … sonder om toestemming te vra.
Baie vroue ervaar dit as ’n besonderse uitdagende tyd wanneer perimenopouse begin. Vir die meeste vroue begin dit in hul middel-40’s (hoewel dit vroeër of later ook kan begin), en dit kan etlike jare duur.
Jy kan die volgende begin opmerk:
- Menstruasie wat swaarder of ligter is, vroeër of later begin, of soms heeltemal wegbly.
- Warm gloede en nagsweet (die “Hoekom is dit so warm?”-oomblikke in die middel van die nag.)
- Gemoedskommelings – alweer.
- Slaapprobleme.
- ’n Laer seksdrang.
- Vaginale droogheid.
En dan is daar ’n paar ekstra verrassings:
- Breinvaagheid (“brain fog”) (jy stap ’n vertrek binne en vergeet wat jy daar wou doen).
- Angs.
- Gevriesde skouer.
- Gewigstoename wat skynbaar oornag gebeur, al eet jy nog dieselfde.
- Droë vel.
- Teer borste.
- Swak konsentrasie.
Dit alles hou verband met dalende estrogeenvlakke, die primêre vroulike hormoon wat byna elke stelsel in jou liggaam beïnvloed.
Beendigtheid en spiermassa begin ook afneem. Jy kan voel of jy minder spierkrag het, en met verloop van tyd kan dit die risiko van osteoporose, val en verminderde beweeglikheid verhoog.
Die goeie nuus? Jy’s nie magteloos nie.
Daar is dinge wat jy kan doen:
- Vra jou ginekoloog of hormoonvervangingsterapie vir jou geskik kan wees om die simptome van perimenopouse te help verlig.
- Eet meer proteïene om spierverlies teen te werk.
- Kardio was dalk goed in jou 20’s, maar dis nou tyd om ’n paar keer ’n week gewigoefeninge by te voeg om jou spiere in stand te hou.
- Kry maniere om doelbewus stres te verminder – jou senuweestelsel sal jou daarvoor bedank.
Jou gereelde gesondheidsondersoeke behoort nou ’n mammogram, Papsmeer, kolonoskopie en beendigtheidskandering in te sluit, asook sifting vir cholesterol, diabetes en hoë bloeddruk.
Hierdie dekade kan onvoorspelbaar voel. Maar dit kan ook ongelooflik bemagtigend wees. Jy ken jouself immers nou beter as ooit tevore.
Jou 50’s en daarna: Hou aan met die goeie gewoontes
Teen hierdie tyd het menopouse jou waarskynlik laat ophou menstrueer. (Daar is darem ook voordele – jy hoef nie meer ’n noodvoorraad sanitêre produkte in jou handsak rond te dra nie.)
Laer estrogeenvlakke kan egter steeds jou hart, bene en spiere beïnvloed. Daarom bly gereelde oefening, ’n gebalanseerde dieet, genoeg slaap en roetine-gesondheidsondersoeke belangrik vir die dekades wat voorlê. Dit is die klein, volgehoue gewoontes wat oor tyd ’n groot verskil kan maak.
Jy kan jou liggaam op dié maniere beskerm:
- Hou jou gewigoefenprogram vol om jou spiere en bene sterk te hou.
- Kry by ’n dieetkundige raad oor kos wat jou hart en skelet gesond sal hou. Eet meer volgraanprodukte en kalsiumryke kosse, en vind uit watter aanvullings vir jou goed kan wees.
- Hou jou sosiale bande sterk. Vriendskappe en gemeenskap speel ’n belangrike rol om breingesondheid te beskerm en depressie en angs te keer.
- Gaan gereeld vir alle aanbevole gesondheidsondersoeke, veral mammogramme en beendigtheidskanderings.
Baie vroue beskryf hulle 50’s as ’n tydperk waarin hulle goeie selfvertroue het. Jy steur jou minder aan ander se verwagtinge en fokus meer op die dinge wat werklik saak maak. Hierdie emosionele veerkragtigheid is net so belangrik as jou liggaamlike welstand.
In watter lewensfase jy jou ook al bevind, gereelde oefening, gesonde eetgewoontes, genoeg slaap en die nodige gesondheidsondersoeke kan jou help om nog baie jare lank gesond en voluit te leef.
Dit kom hierop neer
Jou liggaam gaan verander. Dis nie ’n swakheid nie; dis biologie.
Maar hier is die waarheid: jy is nie besig om uitmekaar te val nie. Jy verander.
Ja, daar mag dalk warm gloede, vreemde pyne en oomblikke wees waar jy vergeet hoekom jy kombuis toe gestap het, maar daar is ook innerlike krag, wysheid en ’n selfvertroue waarvan jou 25-jarige self net kon droom.
Om ouer te word is nie die probleem nie. Om oningelig te wees, is.
Of jy in jou 30’s of jou 70’s is, dit is nooit te vroeg of te laat om in jou gesondheid te belê nie. Met die regte gewoontes – gereelde oefening, gesonde eetgewoontes, genoeg slaap en die nodige gesondheidsondersoeke – kan jy in elke hoofstuk van jou lewe gesond leef en sterk voel.
Geskryf vir Medihelp deur Lisa Witepski