VMV’s, spaarrekeninge, dag-tot-dag-voordele, versekerde voordele… die eindelose lys mediesefondsterme kan oorweldigend raak. Dit maak dit moeilik om te verstaan wat jou plan dek. Tegniese of verwarrende terminologie laat baie mense naderhand voel of dit eenvoudig te ingewikkeld is om hulle voordele te probeer uitpluis. Die werklikheid is – mediesefondsdekking is ’n groot maandelikse uitgawe. En niemand wil betaal vir iets wat hulle nie behoorlik verstaan of ten volle gebruik nie.
In hierdie blog verduidelik ons mediesefondsdekking in eenvoudige taal om jou te help verstaan waarvoor jy betaal, en hoe jou voordele jou help om na jou gesondheid en welstand om te sien.
Die 3 hoofboustene van mediesefondsdekking
Die meeste mediesefondsplanne bestaan uit drie hoofkomponente:
|
Bousteen |
Wat dit dek |
Dink daaraan as |
|
Dag-tot-dag-voordele |
Alledaagse gesondheidsorguitgawes |
Roetinegesondheidsorg |
|
Kernvoordele (ook bekend as versekerde voordele) |
Groot mediese gebeurtenisse en ernstige toestande |
Beskerming teen onverwagte gesondheidsorgkoste |
|
Bykomende versekerde voordele |
Voorkomende sorg en welstandsondersteuning |
Om gesond te bly voordat probleme ontstaan |
Elke komponent speel ’n belangrike rol om lede te help om beplande én onbeplande gesondheidsorgbehoeftes te bestuur.
Dag-tot-dag-voordele: Dekking vir alledaagse mediese uitgawes*
Dit is die gesondheidsorguitgawes wat jy waarskynlik die meeste in jou alledaagse lewe gaan gebruik. Dié voordele sluit gewoonlik die volgende in:
- Huisdokterbesoeke
- Besoeke aan spesialiste
- Akute en chroniese medisyne
- Fisioterapie
- Tandheelkunde
- Oogkunde
Afhangend van jou mediesefondsplan kan dag-tot-dag-voordele op verskillende maniere werk. Sommige planne bied ’n vasgestelde aantal konsultasies; ander sluit weer ’n mediese spaarrekening in.
As jy op ’n spaarplan is, word beskikbare spaargeld eerste gebruik. Sodra daardie fondse uitgeput is, kan versekerde voordele volgens jou plan beskikbaar raak.
Hier is ’n voorbeeld:
- Persoon A is op MedVital, ’n ideale plan vir mense wat vir die eerste keer by ’n mediese fonds aansluit. Die plan bied R1 575 vir kwalifiserende dag-tot-dag-gesondheidsorguitgawes.
- Persoon B is op MedAdd, wat ’n 15%-spaarrekening bied. Dag-tot-dag-gesondheidsorguitgawes word eers uit die spaarrekening betaal. Sodra die spaargeld opgebruik is, word ’n bykomende R2 100 in versekerde voordele vir die res van die jaar beskikbaar.
Medihelp-lede kan hulle beskikbare voordele op die Member Zone sien.
Hoekom is dag-tot-dag-voordele belangrik?
Dag-tot-dag-voordele help lede om vroegtydige toegang tot gesondheidsorg te kry voordat toestande ernstiger of duurder raak om te behandel. Vir individue en gesinne maak dit roetinegesondheidsorg ook meer bekostigbaar en toeganklik.
Kernvoordele: Beskerming wanneer jy dit die nodigste het
Dink aan kernvoordele as ’n veiligheidsnet teen onvoorsiene of hoë mediese koste.
Hierdie voordele sluit dikwels die volgende in:
- Hospitalisasie
- Behandeling vir chroniese toestande
- Voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s)
- Trauma- en noodbehandeling
- Geestesgesondheidsorg
- Kraam- en swangerskapvoordele in die hospitaal
- Hospitaalnasorg en rehabilitasie
Groot mediese gebeurtenisse kan onverhoeds opduik en gaan dikwels met hoë koste gepaard. Sonder voldoende hospitaal- en chroniese dekking kan gesondheidsorguitgawes gou finansieel oorweldigend raak. Kernvoordele bied gemoedsrus deur lede teen hierdie groter gesondheidsorgkoste en -risiko’s te help beskerm.
Dit is so dat baie jonger Suid-Afrikaners voel hulle het nie ’n mediesefonds nodig nie omdat hulle gesond en aktief is. Maar, ongelukke en noodgevalle kom selde met ’n waarskuwing. ’n Sportbesering, onverwagte blindedermontsteking, motorongeluk of skielike siekte kan tot hospitaalrekeninge van duisende rande lei.
Daarom kan selfs ’n hospitaalplan ’n belangrike rol speel om jou finansiële welstand te beskerm. ’n Mediesefonds is nie net daar vir wanneer jy siek is nie – dit help jou ook deur die onvoorsiene oomblikke wat die lewe soms oplewer.
Bykomende versekerde voordele: Vir voorkomende sorg en beter welstand
Bykomende versekerde voordele is op voorkomende gesondheidsorg en algemene welstand gemik. Dié voordele help lede om na hul gesondheid om te sien voordat probleme ontwikkel.
Dit sluit die volgende in:
- Siftingstoetse vir vrouegesondheid
- Gesondheidstoetse vir mans
- Voorbehoedmiddels
- Swangerskap- en babavoordele
- Inentings
- Voorkomende siftingstoetse
Voorkomende sorg kan:
- Gesondheidsprobleme vroegtydig opspoor
- Gesondheidsuitkomste oor die lang termyn verbeter
- Toekomstige mediese koste verminder
- Help om gesinne en gemeenskappe gesonder te hou
Gewone siftingstoetse en gereelde mediese ondersoeke kan met die tyd ’n groot verskil maak.
Hoe hierdie voordele saamwerk
’n Gebalanseerde mediese plan bevat al drie boustene om lede deur verskillende lewensfases en veranderende gesondheidsorgbehoeftes te ondersteun.
Saam help dit om voorsiening te maak vir:
- Alledaagse gesondheidsorgbehoeftes deur dag-tot-dag-voordele
- Skielike mediese gebeurtenisse deur kernvoordele
- Voorsiening vir voorkomende sorg en beter welstand deur bykomende versekerde voordele
Gesondheidsorg gaan oor meer as net die behandeling van siektes. Dit moet lede help om gesonder te leef, dit moet gemoedsrus bied en dit moet Suid-Afrikaners help om toegang tot gesondheidsorg van hoë gehalte te kry wanneer hulle dit nodig het.
Om te sien hoe mediesefondsdekking by jou gesondheidsorgbehoeftes en begroting kan pas, vergelyk Medihelp se mediese planne en voordele hier. Ons het ’n plan vir elkeen!
*Dekking vir dag-tot-dag-gesondheidsorguitgawes word teen 100% van die Medihelp-tarief voorsien.