Back 28 Aug, 2026 - Medihelp

Back

’n Medihelp-gids vir winterwelstand

’n Medihelp-gids vir winterwelstand

Praktiese winterwelstandwenke van Medihelp-lede om jou gesond en sterk te hou.
Read more

Die winter in Suid-Afrika bring vars, koue oggende en korter dae. Vir baie van ons beteken die winter ook minder energie, ’n swaar gemoed en swakker weerstand teen kieme. Daarom het ons Medihelp-lede gevra om hulle beste winterwelstandswyshede met ons te deel. Die reaksie was oorweldigend.

Hier is van hulle gunstelingmaniere om deur die winter gesond te bly.

Voed jou liggaam met kos wat jou deur die winter dra

Winterweer en trooskos loop hand aan hand, en jy hoef nie die lus te probeer onderdruk nie. Maak net ’n paar slim aanpassings.

Baie lede sê jy moet genoeg seisoenale vrugte eet wat ryk is aan vitamien C, soos lemoene en naartjies, om jou witbloedselle te help om infeksies te beveg. Ander beveel kos aan wat ryk is aan vitamien D omdat mens minder tyd in die son deurbring, asook sink, wat kan help om lugweginfeksies vinniger te laat opklaar.

Lede het ook heelwat praktiese idees gedeel om winteretes voedsamer te maak. Sonia hou dit eenvoudig: “Hou gemmer, heuning en suurlemoen byderhand. Dit maak vloeistowwe wat help om griep te beveg lekkerder en het terselfdertyd ’n strelende uitwerking.” Deirdre het raad vir ouers: “Baie sop met baie groente – wees kreatief en maak die groente fyn as jou kinders nie van stukkies hou nie. Hulle sal nie eers agterkom hulle eet groente nie.”

Moet ook nie dermgesondheid afskeep nie. Gefermenteerde kos soos jogurt en kefir kan gesonde dermbakterieë aanhelp. Soos Lillian ons herinner: “Hou jou spysverteringstelsel gelukkig, want gesonde dermbakterieë is van die liggaam se beste verdediging teen winterkieme.”

Mens drink dikwels te min vloeistof in die winter omdat jy nie so dors voel nie. Tog is dit steeds een van die maklikste maniere om jou liggaam te help. Dinah-Lee herinner ons daaraan dat genoeg vloeistof jou immuunstelsel sterk hou en moegheid kan help verminder, terwyl Cindy daarop wys dat virusse makliker vatplek kan kry wanneer die lugweë droog is. Warm water, kruietee en sop help jou om genoeg vloeistof in te kry én die koue te verdryf.

Bly aan die beweeg, selfs wanneer jy nie lus is nie

Kom ons wees nou maar eerlik. Winteroggende laat selfs die mees toegewyde fiksheidsgeesdriftiges onder ons hul lewenskeuses bevraagteken.

Die goeie nuus is dat jy nie lang, uitmergelende oefensessies in die koue nodig het om gesond te bly nie. ’n Flink stappie, ’n oefensessie in die huis, joga of selfs ’n rondte rolbal verbeter jou bloedsomloop, versterk jou immuniteit en keer dat jou gemoed saam met jou motivering ’n winterslaap binnegaan.

Johné wil geen verskonings hoor nie en som dit perfek op: “Hou op verskonings maak en kry jou lyf aan die beweeg. Selfs ’n eenvoudige stappie bou jou immuunstelsel op en doen meer vir jou gesondheid as om stil te sit.”

Soms kom motivering uit onverwagse oorde. Devarshinee sê: “Om met my hond Zeus te speel, dwing my om buitentoe te gaan wanneer ek nie lus is nie.” En Zané herinner ons daaraan dat elke bietjie beweging tel, al is dit net om “vinnig te hardloop om die wasgoed in te bring voor dit begin reën”.

Mik vir 150 minute se matige oefening per week – ongeveer 30 minute vyf dae per week.

Beskerm jou slaap asof jou immuunstelsel daarvan afhang

Baie van ons lede meen dat ons dikwels onderskat hoe belangrik slaap vir winterwelstand is. Terwyl jy slaap, vervaardig jou liggaam sitokiene. Hierdie proteïene help om die immuunrespons te reguleer en inflammasie te verminder.

Die langer nagte is die ideale geleentheid om jou liggaam die rus te gee wat dit nodig het. ’n Gereelde slaaproetine is ’n wenk wat deurlopend voorgekom het. Eugene se benadering is eenvoudig: los die middagslapies en gaan elke aand min of meer dieselfde tyd bed toe. Deirdre het ’n eenvoudige oplossing gevind wat vir haar werk: “Ek stel ’n alarm om my te herinner om nie te laat te gaan slaap nie. Dit word met ’n rede vroeër donker – in die winter het jou liggaam die ekstra rus nodig.”

Goeie slaaphigiëne is ook in baie wenke genoem. Hou jou slaapkamer koel, goed geventileer en donker en volg elke aand ’n vaste, rustige roetine om af te skakel. Britni stel voor dat jy enigiets wat jou aandag aftrek voor slaaptyd wegsit, veral jou selfoon, en Lameez sê jy moet jou voete voor slaaptyd met sokkies of ’n warm voetbad warm maak om jou te help om gemakliker aan die slaap te raak.

Beskerm jou geestesgesondheid in die koue maande

Winterneerslagtigheid hou direk met ons biologie verband. Minder blootstelling aan natuurlike lig beteken meer melatonien (die slaaphormoon) en minder serotonien (die gemoedshormoon), wat baie van ons lusteloos kan laat voel en laat onttrek. Kry soggens natuurlike lig deur binne ’n uur nadat jy wakker word minstens 15 tot 20 minute lank buite deur te bring, selfs op ’n bewolkte dag.

Su-Mia en Tania moedig ons aan om kontak met vriende en familie te behou, en Cornelis herinner ons aan die waarde van eenvoudige oomblikke: “Maak plan om saam met vriende koffie of tee te drink, al is dit by die huis as geld knap is. Die winter kan eensaam wees en ons vergeet soms hoeveel ’n warm drankie en goeie geselskap kan beteken.”

Jy kan ook klein maniere probeer om stres te verlig en jou senuweestelsel te help kalmeer en herstel. Klein daaglikse gewoontes kan ’n verbasend groot verskil maak. Dr Maryke moedig ons aan om gereeld te lag omdat dit ‘goeie medisyne vir die hart’ is. Sy sê ook ons moet onsself toestemming gee om in die winter ’n bietjie rustiger te leef.

Ulanda begin elke dag deur iets te noem waarvoor sy dankbaar is – soms iets so eenvoudig soos om ’n mooi blom te bewonder. Nadia stel voor dat jy elke dag een klein dingetjie doen om iemand anders se dag beter te maak en vir jouself ’n warm, rustige plekkie te skep waar jy jou batterye kan herlaai.

Gee jou immuunstelsel elke moontlike voordeel

Sommige gewoontes wat jou in die winter gesond hou, is werklik eenvoudig en help om jou liggaam se natuurlike weerstand te beskerm.

Baie lede het beklemtoon hoe belangrik dit is om gereeld hande te was, goeie higiëne te handhaaf en noue kontak met mense wat siek is, te vermy. Bianca en Gerrit wys albei daarop dat een van die waardevolste lesse van die Covid-jare is om ons hande behoorlik en gereeld te was.

Selala beveel goeie handhigiëne aan om wintersiektes te help voorkom, terwyl Margaret veral daarop let om kombuisoppervlakke en items wat gereeld gebruik word skoon te hou. Audrey pas dieselfde raad in badkamers en op gedeelde oppervlakke toe, veral in huise met kinders.

Baie lede noem ook griepinentings, vitamienaanvullings, warm sokkies en dat dit belangrik is om stresvlakke onder beheer te hou.

Laura herinner ons aan iets wat verder strek as winterkieme: “Stres kan jou immuunstelsel ernstig verswak. Doen dus wat jy kan om dit gedurende die winter te beperk. Sit elke dag vyf minute buite, doen oefening om jou dopamien en serotonien ’n hupstoot te gee, maak tyd om te lees en weer tot verhaal te kom of stort eenvoudig by kerslig sodat jou sentrale senuweestelsel kan ontspan.” Chroniese stres verhoog kortisolvlakke, wat mettertyd die immuunstelsel onderdruk.

Sorg vir jou vel in koue, droë weer

Jou vel is jou liggaam se grootste orgaan en primêre beskerming teen die omgewing. Koue lug gaan dikwels met laer humiditeit gepaard, en verskeie lede is dit eens dat verhitting binnenshuis droë vel kan vererger.

Nokuthula waarsku daarteen om met ’n verwarmer of lugversorger aan te slaap, en Nicholas stem saam dat warmwatersakke, komberse en verskeie lae klere veiliger is om warm te bly sonder om die lug uit te droog.

Gebruik ’n ryker, romerige bevogtiger met bestanddele soos keramiede of galambotter (“shea butter”) en smeer dit ná ’n bad of stort aan om te help jou vel bevogtig te hou. Manne, dit geld vir julle ook.

Petrus stel dit mooi: “Luister na jou liggaam. Drink water, kyk na jou vel en gebruik bevogtiger wanneer jou hande droog word.”

En moenie van sonskerm vergeet nie. Die winterson kan jou vel steeds beskadig, selfs op bewolkte dae.

Bly warm, bly gesond

As daar een ding is wat ons lede duidelik gemaak het, is dit dat winterwelstand nie oor ’n uitputtende nuwe roetine gaan nie. Dit gaan oor klein, volhoubare aanpassings wat jou liggaam en gees help om te doen waarvoor hulle gemaak is.

Van ons almal by Medihelp: Baie dankie aan elkeen wat wenke gedeel het. Bly warm, behou kontak met die mense om jou en sorg mooi vir jouself.


Share this on: