Terme
Bykomende versekerde voordele
Voordele wat bykomend tot jou dekking vir daaglikse gesondheidsorg gebied word. Dit sluit voorkomende gesondheidsondersoeke, inentings en swangerskap- en babavoordele in.
Rug-en-nekbehandelingsprogram
’n Niechirurgiese program vir rug- en nekpyn wat deur DBC (Documentation Based Care) aangebied word. Behandeling word by elke pasiënt se diagnose aangepas. Pasiënte moet geëvalueer word voordat hulle by die program aansluit en moet die program voltooi voordat spinale chirurgie goedgekeur sal word. Hierdie program is nie vir MedMove!-lede beskikbaar nie.
Voordeelsiklus
Die tydperk waarvoor ’n voordeel geld, vanaf die datum waarop jy dit die eerste keer gebruik. Elke nuwe siklus begin nadat die vorige siklus geëindig het, ongeag enige onderbreking in lidmaatskap, planveranderings of herregistrasie.
Kankervoordele
Die meeste kankergevalle kwalifiseer as voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s), waarvoor Medihelp volgens die voorgeskrewe behandelingsriglyne volle dekking bied. Nie-VMV-kanker word tot die vasgestelde bedrag vir elke plan gedek, maar slegs indien ’n onkoloog in die Icon-netwerk die behandeling doen. Alle kankerbehandeling word individueel volgens Icon se protokolle geëvalueer. Vir behandeling buite die Icon-netwerk, of behandeling wat nie aan Icon se protokolle voldoen nie, sal daar bybetalings wees.
Uitgebreidesorgvoordeel
’n Aansporingsvoordeel wat jy ontsluit deur sekere gesondheidsondersoeke te doen.
Lys van Chroniese Siektes
’n Lys van 26 chroniese toestande wat ingevolge die Wet op Mediese Skemas onder voorgeskrewe minimum voordele (VMV’s) gedek moet word.
Bybetalings
Die gedeelte van ’n mediese rekening wat jy self aan die diensverskaffer betaal. Bybetalings geld wanneer:
- Jou dokter of diensverskaffer meer as Medihelp se tarief vra.
- Jou voordeel minder as 100% van die koste dek, byvoorbeeld vir oorspronklike (niegeneriese) akute medisyne, of die koste jou voordeellimiet oorskry.
- Jy ’n diensverskaffer buite die aangewese netwerk gebruik, byvoorbeeld ’n onkoloog buite die Icon-netwerk vir kankerbehandeling.
- Die Skema se Reëls ’n bybetaling vir ’n spesifieke prosedure of voordeel bepaal.
Voorbehoedmiddels
Inspuitbare, inplantbare, intra-uteriene en mondelikse voorbehoedmiddels.
Kernvoordele
Voordele wat noodsaaklike gesondheidsorg, soos hospitalisasie, dek. Dit is gewoonlik versekerde voordele wat by alle planne ingesluit is, hoewel bybetalings, behandelingsriglyne, netwerkbeperkings of limiete op sommige voordele van toepassing kan wees.
Koste (VMV’s)
Vir VMV-dienste beteken ‘koste’ dat Medihelp die volle bedrag betaal, mits die diens as ’n VMV kwalifiseer, by Medihelp geregistreer is en volgens die VMV-behandelingsriglyne deur ’n aangewese diensverskaffer gelewer word.
CPAP
’n Toestel wat volgehoue positiewe lugwegdruk lewer om asemhaling te ondersteun.
Dagprosedurenetwerk
Medihelp se netwerk van fasiliteite waar pasiënte prosedures ondergaan wat nie ’n oornagverblyf vereis nie. MedMove!-lede moet hierdie netwerk vir alle dagprosedures gebruik, anders geld ’n bybetaling van 35%. Alle lede word aangemoedig om die netwerk te gebruik. Alle dagprosedures moet vooraf goedgekeur word. Indien dit nie gedoen word nie, geld ’n bybetaling van 20%. Sekere prosedures, soos endoskopiese prosedures, vereis ’n voorafbetaling wat volgens plan verskil.
Dag-tot-dag-voordele
Voordele wat algemene, alledaagse mediese uitgawes dek. Afhangend van jou plan, kan dit uit ’n spaarrekening, versekerde dekking of ’n kombinasie van die twee betaal word.
Aangewese diensverskaffer
’n Diensverskaffer met wie Medihelp ’n kontrak aangegaan het of wat Medihelp aangestel het om spesifieke mediese dienste te lewer.
EVARS (endovaskulêre aortavervangingschirurgie)
’n Minimaal indringende prosedure om ’n aorta-aneurisme te behandel deur ’n stent binne-in die aorta te plaas om die verswakte gedeelte te versterk en die risiko van skeuring te verminder. Die prosedure word gedek indien daar aan spesifieke kliniese kriteria voldoen word.
Formularium
’n Lys voorkeurmedisyne wat op grond van veiligheid, doeltreffendheid en koste gekies is om spesifieke toestande te behandel. Die formularium geld vir MedMove!, MedVital Elect, MedAdd Elect en MedPrime Elect.
Hospitaalvoordele
Voordele vir dienste tydens ’n hospitaalverblyf, insluitend saalakkommodasie, saalmedisyne, radiologie, patologie en konsultasies in die hospitaal. Alle beplande opnames moet vooraf goedgekeur word. Indien dit nie gedoen word nie is daar ’n bybetaling van 20%. Noodopnames moet op die eerste werksdag ná opname geregistreer word. Sekere prosedures wat in die hospitaal uitgevoer word, soos endoskopiese prosedures en gespesialiseerde radiologie, vereis ’n voorafbetaling wat van plan tot plan verskil. Lede op netwerkplanne wat ’n hospitaal buite die netwerk kies, sal ’n bybetaling van 35% op die hospitaalrekening hê.
MHVP (Medihelp-verwysingsprys)
Die prys wat Medihelp vir voorafgoedgekeurde VMV-medisyne gebruik, gegrond op die kostedoeltreffendste bewysgebaseerde behandeling. Die MHVP verskil volgens plan en kan verander wanneer nuwe generiese medisyne op die mark beskikbaar raak. Gaan die jongste pryse op medihelp.co.za na. Deur medisyne op die MHVP te gebruik, waar moontlik, kan jy bybetalings vermy of verminder.
MMFP (Maksimum Mediesefondsprys)
Die verwysingsprys wat Medihelp gebruik om voordele vir akute en chroniese medisyne te bereken. Dit is gegrond op die gemiddelde prys van alle beskikbare generiese ekwivalente van ’n gepatenteerde medisyne.
MT (Medihelp-tarief)
Die tarief wat Medihelp vir mediese dienste betaal. Dit sluit gekontrakteerde tariewe met hospitaalgroepe, die Medihelp-tandheelkundetarief en die enkeluitgangsprys vir akute medisyne in. Die tariewe word in die Reëls van Medihelp uiteengesit.
Netwerkplanne
Planne waarvan die voordele aan ’n spesifieke netwerk van diensverskaffers gekoppel is. Lede op hierdie planne moet netwerkverskaffers gebruik om vir volle voordele te kwalifiseer en bybetalings te vermy. Gebruik die Soek ’n verskaffer-funksie op medihelp.co.za om netwerkverskaffers vir jou plan te vind.
Tydperk
Die spesifieke tydperk wat vir ’n bepaalde voordeel geld, byvoorbeeld die voordeeljaar vir tandheelkunde of die datum waarop jy as begunstigde aangesluit het.
VMV’s (voorgeskrewe minimum voordele)
’n Stel voordele wat alle mediese fondse volgens wet moet bied. VMV’s dek die 26 chroniese toestande op die Lys van Chroniese Siektes, 271 diagnoses en die behandeling wat daarmee verband hou, asook mediese noodgevalle. Medihelp moet volle dekking hiervoor bied, sonder voordeellimiete. VMV’s is onderhewig aan voorafgoedkeuring, behandelingsprotokolle en, waar vereis, die gebruik van aangewese diensverskaffers. VMV-voordele word eers uit die toepaslike dag-tot-dag-voordele betaal.
Primêresorg-geneesmiddelterapeute
’n Apteker wat gekwalifiseer is om sekere primêre gesondheidstoestande te diagnoseer en medisyne vir voorbehoeding en toestande soos, diarree, aknee, insek- en spinnekopbyte, oorinfeksies en verskeie ander toestande voor te skryf.
Protokol
’n Stel kliniese riglyne wat die beste volgorde van toetse en behandeling vir ’n spesifieke toestand uiteensit. Dit sluit kliniese praktykriglyne, standaardbehandelingsriglyne, siektebestuursriglyne, behandelingsalgoritmes, kliniese paaie en formulariums in.
Spaarrekening
’n Rekening wat Medihelp as deel van die Skema se fondse hou en wat beskikbaar is op planne wat ’n spaarrekening insluit. Dit word gebruik om kwalifiserende mediese uitgawes te betaal. Ongebruikte geld word van jaar tot jaar oorgedra. ’n Kredietfasiliteit gelykstaande aan die spaarbydraes vir die oorblywende maande van die jaar word vooraf beskikbaar gestel, en enige ongebruikte geld word na die volgende jaar oorgedra.
Selfmedikasie
Oor-die-toonbank-medisyne waarvoor jy nie ’n voorskrif nodig het nie. Eise vir selfmedikasie moet geldige NAPPI-kodes hê om verwerk te word.
Telemedisyne
Gesondheidsorgkonsultasies wat op ’n afstand met behulp van tegnologie soos rekenaars, telefone, video-oproepe of boodskappe plaasvind.
“TTO”-medisyne
Huistoeneem-medisyne wat die hospitaal aan jou resepteer wanneer jy ontslaan word. ’n Limiet per opname geld.
Vaskulêre/kardiale (hart-) prosteses
Toestelle wat gebruik word om beskadigde bloedvate of hartstrukture te vervang of te ondersteun. Dit sluit kunsmatige hartkleppe, vaskulêre oorplantings en inplantbare harttoestelle in.
Virtuele konsultasies
Konsultasies by Clicks, Dis-Chem of ander deelnemende apteke, waar geregistreerde verpleegkundiges, met die ondersteuning van ’n netwerk van geakkrediteerde algemene praktisyns, toestande kan diagnoseer, medisyne kan voorskryf en, waar nodig, verwysings kan uitreik.