Plante se genesende eienskappe word reeds vir eeue ontgin en benut, maar word ook al hoe gewilder as gesonde alternatief op medisyne. In Suid-Afrika is daar meer as 200 000 tradisionele genesers wat inheemse plante vir medisyne gebruik.
Volgens dr Marike de Klerk van die Naturopathic Health Care Centre in Pretoria is daar ’n klomp bekostigbare produkte in jou koskas en alledaagse plante in jou tuin wat propvol genesingskrag is. Hier is ’n paar wat jy kan probeer.
Asyn
“Vanweë sy antimikrobiese eienskappe is asyn nuttig vir die behandeling van velinfeksie, sonbrand, brandwonde, naelswamme, vratte en oorinfeksie. Hippokrates, die vader van moderne medisyne, het asyn reeds meer as 2 000 jaar gelede gebruik om wonde skoon te maak,” sê dr De Klerk. Asyn hou ook bloedsuiker en cholesterol in toom en help met gewigsverlies.
Basielkruid
Basielkruid is ’n muskietweerder en die olie in die blare help om jeukerigheid te verlig. Dit bevat voedingstowwe en verbindings wat kan help om chroniese siektes te voorkom, insluitend kanker en diabetes. Dit maak korte mette van hoofpyn en die antioksidante beskerm die liggaam teen oksidatiewe stres wat kanker, hartsiekte, katarakte en artritis kan veroorsaak. Die vitamien K in basielkruid bevorder beengesondheid en help met bloedstolling. Verbeterde bloedsuiker- en cholesterolvlakke asook breingesondheid (beter konsentrasie en verminderde angs) is nóg redes waarom basielkruid in jou kruietuin hoort.
Gemmer
Gemmer stimuleer goeie spysvertering, verlig hoofpyn, menstruasiepyn en keelseer, en verminder verkouesimptome. Gemmer help ook om oggendnaarheid en ander ongemak wat met swangerskap verband hou, te verlig. Kenners wat met pasiënte werk wat chemoterapie vir kanker ontvang, sê gemmer verlig naarheid ná behandelings, sonder die newe-effekte van ander medisyne. Vir persone met tipe 2-diabetes kan gemmer jou bloedsuikervlak verlaag en die risikofaktore van hartsiektes verminder.
Hawermout
Het jy sonbrand, ekseem of ’n veluitslag? Hawermout maak velirritasies en jeukerigheid houdbaar. Gooi rou hawermout in ’n sykous en laat dit in ’n bad warm water week terwyl jy in die water sit. Dit is ’n uitstekende bron van yster, magnesium, sink, vitamien B, antioksidante en oplosbare vesel. Dit verlaag cholesterol en beheer bloedsuikervlakke, veral in mense met diabetes of vetsug. Dit verminder die risiko vir asma by kinders, is ’n vullende maaltyd wat gewigsbeheer bevorder, en verlig hardlywigheid. Die antioksidante in hawermout laat die are ontspan en verbeter bloedvloei.
Kruisement
“Kruisementblare of -tee kan gebruik word om velirritasies, seer keel, hoes, geringe pyn en naarheid te behandel, en vir ’n vars asem,” verduidelik dr De Klerk. Kruisement is ’n goeie bron van fosfor, yster, kalsium, kalium en mangaan wat hemoglobienvlakke verhoog en breinfunksie bevorder. Die antioksidante en vitamiene A, C, en B-kompleks verbeter spysvertering, verlig prikkelbare dermsindroom (IBS) en verkouesimptome, en gee jou immuunstelsel ’n hupstoot.
Melkprodukte
Die vet- en proteïeninhoud in melk verlig die pyn van brandwonde en bevorder genesing. Week die brandwond vir 15 minute in melk vir vinnige verligting. Volroomjogurt doen weer wondere vir ’n uitgedroogde vel.
Suiker en heuning
’n Mens dink nie gewoonlik aan suiker as gesondheidsgenoot nie. Studies het egter bevind dat suiker met sukses in wondsorg gebruik kan word. Net so is bestraalde heuning ’n natuurlike antibakteriese ontsmettingsmiddel. Smeer dit aan ’n brandwond en bedek met ’n skoon lappie. Rou heuning help met spysverteringsprobleme deur goeie bakterieë te bevorder en kan keelseer en hoes verlig. Moet egter nooit rou heuning op ’n wond smeer nie.
Tee
Tee verbeter konsentrasie, bloeddruk, hart-, derm- en beengesondheid, verlig angs, en verminder die risiko vir diabetes en kanker. Klam teesakkies kan gebruik word vir velirritasies, sonbrand of om op bysteke en swere te sit. Swelsels sak sonder sukkel danksy die tannien in tee.
Raadpleeg altyd jou dokter voordat jy natuurlike middels gebruik, veral as jy reeds ander medisyne neem.