Back 01 Aug, 2024 - Floreer!

Back

Hoe om pyn sonder pille te bestuur

Hoe om pyn sonder pille te bestuur

Leer in die tweede artikel in ons pynreeks hoe jy pyn sonder pille kan plettervat.
Read more

Pyn bly nou maar net eenmaal ʼn pyn. Óf jy seer is ná ’n strawwe oefensessie, óf eers moet asem skep nadat jy net een stel trappe uitgeklim het. Tog is oefening belangrik om pyn en inflammasie te bestuur, jou energievlakke en gemoed ʼn hupstoot te gee, én ʼn goeie nagrus te verseker. Weet jy wat jy alles kan doen om self jou pyn te bestuur en wanneer om wel mediese hulp in te roep? Hier’s raad. 

Plettervat pyn sonder pille

Volgens dr Russell Raath van die Chronic Pain Center in Pretoria kan die langdurige gebruik van pynmedisyne ernstige gesondheidsgevolge inhou. “Op die kort termyn kan dit lomerigheid, naarheid, hardlywigheid en stadige asemhaling veroorsaak. Langtermyngevolge kan weer verslawing, lewerskade, asemhalingsprobleme, hartsiektes, beroerte en hormoonwanbalans (wat tot onvrugbaarheid en seksuele disfunksie kan lei) insluit.”

Dr Raath gee dié praktiese wenke om pyn sonder medisyne te bestuur:

  • Hitte of koue
    Gebruik yspakkies (soos ʼn sakkie gevriesde groente) onmiddellik ná ʼn besering om swelling te verminder. Moet egter nooit ys direk op die vel plaas nie. ʼn Warmwatersak is op sy beurt ideaal om pyn weens spier- of gewrigsbeserings te verlig.
  • Kognitiewe gedragsterapie
    Dié sielkundige terapie kan jou help om jou denke oor pyn te verander. Dit is veral ʼn waardevolle strategie om te leer om chroniese pyn self te bestuur.
  • Meditasie en joga
    Hoe ons pyn ervaar, word regstreeks deur ons emosionele welstand beïnvloed. Om meditasie te beoefen, musiek te luister, joga en strek- of lae-intensiteitoefening (soos in ʼn swembad) te doen, sal jou pyn verminder, jou aan die beweeg hou, stres verminder en jou gemoed ʼn hupstoot gee.
  • Massering
    Hierdie behandeling is geskik vir sagteweefselbeserings (somatiese pyn), maar moet liefs vermy word as die pyn in die gewrigte is. Dit is ook nie noodwendig gepas vir langtermynbehandeling nie.
  • Akupunktuur
    Dié metode word reeds vir eeue in tradisionele Chinese geneeskunde gebruik. Dun naalde word op spesifieke plekke in die vel gesteek met die doel om balans in die liggaam te herstel, genesing aan te vuur en die vrystelling van natuurlike pynstillers (endorfiene) te stimuleer.
  • Transkutane elektriese senuweestimulasieterapie (TENS)
    Dit behels laespanning- elektriese strome wat met behulp van elektrodes toegedien word en ʼn pynwerende of -stillende reaksie in die liggaam teweegbring. 

Gesondheid uit die grond uit

Dr Raath meen ons koskeuses en aanvullings soos magnesium, sink, vitamien B12 en omega 3-vetsuur kan ook ʼn groot (en gesonde) rol in pynbestuur en -verligting speel.

  • Rooipeper kan die boodskappe tussen die senuwees en die brein vertraag en pyn verlig.
  • Borrie het anti-inflammatoriese eienskappe wat pyn in veral die gewrigte kan verlig.
  • Olies (soos dié met roosmaryn, laventel, peperment, bloekom en naeltjie) kan verligting vir toestande van stywe spiere tot hoofpyn en seer gewrigte bring.
  • Gemmer is nóg ʼn natuurlike inflammasietemmer wat pynverligting en spierherstel bevorder.

Moenie dié pyn ignoreer nie

Soms ervaar ʼn mens pyn wat van ʼn dowwe in ʼn skerp, intense of kloppende pyn verander. Dit kan ʼn teken van ʼn breuk, skeur of dieperliggende gesondheidstoestand wees. Volgens Dr Raath moet ’n mens professionele hulp kry indien die pyn:

  • Jou beweging belemmer, soos ʼn skerp pyn wat jou verhinder om ʼn liggaamsdeel te beweeg, jou beweging drasties inperk (jy kan byvoorbeeld nie jou been buig of jou arm bo jou kop oplig nie), of jou heeltemal in jou spore stuit.
  • Op die plek van ʼn vorige besering of operasie voorkom. Pyn op plekke waar jy voorheen behandeling gekry of ʼn operasie ondergaan het, kan op ʼn ander, onderliggende probleem dui.
  • Met misvorming, swelling of kneusplekke gepaardgaan. Raadpleeg altyd jou dokter as enigiets nie soos voorheen lyk nie, veral as jy gereeld swelling ervaar of kneusplekke gewaar.
  • Glad nie wil wyk nie. As jy nie verligting ervaar ná ʼn paar dae van rus, ys of oor-die-toonbank- anti-inflammatoriese medisyne nie, of as die pyn konstant bly of vererger, moet jy mediese hulp inroep.
  • Met ander simptome gepaardgaan. As die pyn só intens is dat dit naarheid of braking veroorsaak, of as jy koors of kouekoors ervaar, raadpleeg dadelik jou dokter.

Sewe of sewentig, pyn is iets wat ʼn ieder en elk raak. Vat pyn vas deur na jou liggaam te luister, dit sover moontlik sonder pille aan te pak, en ʼn geneeskundige se raad in te win as jou geduld (en gevriesde groente) opraak!


Deel hierdie op: