Algemeen
Wat is die bekostigbaarste mediese fonds?
Bekostigbare mediesefondsplanne in Suid-Afrika is gewoonlik hospitaalplanne. Hospitaalplanne dek hospitaalverblyf en groot mediese gebeure soos noodgevalle, ongelukke en ernstige siektes, met beperkte voordele vir dag-tot-dag-gesondheidsorgdienste soos dokter- of spesialisbesoeke.
Medihelp se hospitaalplanne is MedVital, MedVital Elect en ons mediesefondsplan vir studente, MedMove! Student. Die regte keuse hang af van jou gesondheidsbehoeftes en begroting.
Wat doen 'n mediese fonds?
’n Mediese fonds help om die koste te dek van gesondheidsorgdienste by privaat gesondheidsorgfasiliteite, soos hospitale en privaat dokters, asook ander gesondheidsorgkundiges. Die plan wat jy kies, sal bepaal hoeveel van die koste van ’n hospitaalverblyf, besoek aan ’n gesondheidsorgkundige of behandeling gedek word.
Hoe kwalifiseer ek vir 'n mediese fonds?
Enigeen in Suid-Afrika kan by ’n mediese fonds aansluit. Voordat jy aansoek doen, moet jy na jou gesondheidsbehoeftes en begroting kyk en verskillende mediese fondse se planne met mekaar vergelyk. Sodra jy op ’n plan besluit het, kan jy óf by die mediese fonds self aansoek doen óf deur ’n finansiële adviseur werk.
Om aansoek te doen, hoef jy net ’n aansoekvorm in te vul. Medihelp se aanlyn aansoekvorm maak dit vinnig en maklik, en ons laat weet jou as ons enige stawende dokumente benodig. Sodra jou aansoek afgehandel is, bevestig ons jou lidmaatskapbesonderhede, ledegeld en die datum waarop jou dekking begin.
Hou in gedagte dat sommige voordele (byvoorbeeld dienste, behandeling en medikasie) ’n wagtydperk kan hê. Dit hang af van jou bestaande gesondheidstoestande, jou ouderdom wanneer jy aansluit en of jy voorheen aan ’n mediese fonds behoort het.
Wat is 'n mediese fonds in Suid-Afrika?
'n Mediese fonds is iets waarvoor jy elke maand betaal om die koste van mediese sorg te help dek wanneer jy siek of beseer word of gesondheidsorg nodig het.
In plaas daarvan om groot rekeninge vir dokters of hospitale self te betaal, help die mediese fonds om sommige of die meeste van daardie koste namens jou te betaal.
Wie betaal vir mens se mediese fonds?
Lidmaatskap van die mediese fonds is in die hooflid se naam. Die hooflid is gewoonlik verantwoordelik vir die betaling van die maandelikse ledegeld.
Ledegeld kan deur die hooflid self, ’n werkgewer of ’n derde party soos 'n familielid of borg betaal word.
Hoeveel kos ’n mediese fonds in Suid-Afrika?
Die maandelikse bedrag, of ledegeld, wat jy vir jou mediese fonds betaal, wissel afhangend jou plan, die aantal afhanklikes (ander mense of kinders wat op jou plan geregistreer is) en onderskrywing.
Basiese hospitaalplanne is meer bekostigbaar, terwyl omvattende planne duurder is maar wyer dekking bied.
Kan ek by ’n mediese fonds aansluit as ek nie werk het nie?
Ja, in Suid-Afrika kan jy by ’n mediese fonds aansluit selfs al is jy werkloos of as jy vir jouself werk. Jy sal self die volle maandelikse ledegeld moet betaal. Medihelp is oop vir almal – studente, individue, gesinne en korporatiewe groepe.
Is dit die moeite werd om ’n mediese fonds te hê?
Ja, in Suid-Afrika help ’n mediese fonds om jou en jou gesin teen die duur privaat gesondheidsorg en onverwagte mediese rekeninge te beskerm. Afhangend van jou plan, het jy toegang tot privaat hospitale, dokters en spesialiste, dikwels met korter wagtye as in die openbare gesondheidsorgsektor. Selfs ’n basiese plan kan help om onverwagte mediese uitgawes te dek en jou en jou gesin gemoedsrus te gee.
Wat gebeur as ek een maand nie my ledegeld betaal nie?
As jy ’n betaling misloop, kan jou dekking opgeskort of beëindig word, afhangend van die mediese fonds se reëls. Jy kan ook toegang tot jou voordele verloor.
Kontak jou mediese fonds so gou moontlik om ’n reëling te tref vir die betaling en ’n onderbreking in jou dekking te voorkom.
Watter Suid-Afrikaanse mediese fonds is die beste?
Die beste mediese fonds in Suid-Afrika is een wat by jou en jou gesin se behoeftes, begroting en leefstyl pas. ’n Goeie plan behoort die regte balans te bied tussen dekking, bekostigbaarheid en toegang tot gesondheidsorgverskaffers wat gehaltesorg lewer.
As persoonlike, mensgerigte diens vir jou belangrik is, is ondersteuning van lede nog ’n belangrike faktor om in ag te neem. Medihelp is deur die CE™ Index as die beste mediese fonds-kontaksentrum vir 2024/2025 aangewys – wat die skema se sterk fokus op lede-ondersteuning weerspieël.
Waarna moet ek kyk wanneer ek 'n mediese fonds kies?
Om die beste mediese fonds in Suid-Afrika te kies, dink aan:
- Wat jy kan bekostig
- Jou gesondheidsbehoeftes
- Watter dokters en hospitale jy kan gebruik
- Bykomende voordele en dienste
- Die algehele waarde en gehalte van diens
Kyk ook na limiete en wat ingesluit is, soos voordele vir daaglikse gesondheidsorg en dekking vir chroniese toestande.
Het studente 'n mediese fonds nodig?
Dit is ’n slim besluit om ’n mediese fonds te hê terwyl jy studeer. Dit help om jou teen mediese koste te beskerm en gee jou toegang tot privaat gesondheidsorg en voorkomende sorg. Medihelp se MedMove! Student-plan bied dekking om jou te ondersteun wanneer jy dit die nodigste het.
Hoe werk ’n mediese fonds in Suid-Afrika?
Lede van ’n mediese fonds in Suid-Afrika betaal elke maand ledegeld in ’n gedeelde fonds. Wanneer jy mediese sorg nodig het, help die mediese fonds om daarvoor te betaal volgens die voordele van jou plan, met sekere limiete en reëls.
Moet ek ’n mediesefondsadviseur hê?
Dit is nie verpligtend om ’n mediesefondsadviseur te gebruik nie, maar hulle kan jou help om planne te vergelyk, voordele te verstaan en dekking te kies wat by jou behoeftes pas. Dit kan jou help om duur foute te voorkom.
Het ek ’n mediese fonds nodig as ek gesond is?
Ja, ’n mediese fonds help om jou teen onverwagte mediese koste te beskerm en gee jou toegang tot privaat gesondheidsorg, selfs al is jy tans gesond. Dat jy nou gesond is, beteken nie dat jy nie later mediese sorg sal nodig hê nie – byvoorbeeld ná ’n motorongeluk of in ’n ander noodgeval.
’n Mediese fonds bied ook voorkomende voordele, soos siftingstoetse en gesondheidsondersoeke, wat kan help om ernstige of chroniese toestande vroeg op te spoor voordat dit duur raak om te behandel. Dit kan dit ook makliker maak om later jou plan op te gradeer en help jou om wagtydperke of ’n belading vir laataansluiting te vermy soos jy ouer word.
Wat is die beste mediese fonds vir jong volwassenes?
Die beste mediese fonds vir jong volwassenes is gewoonlik bekostigbare planne wat hospitalisasie dek, met voordele vir daaglikse gesondheidsorg volgens jou behoeftes. MedAdd en MedAdd Elect is gewilde mediesefondsplanne vir jong paartjies.
Is daar mediesefondsplanne vir korporatiewe groepe in Suid-Afrika?
Ja, baie werkgewers bied mediese fonds vir hulle werknemers. Iemand wat mediese fonds deur ’n werkgewer het, betaal dikwels minder uit hulle eie sak vir ledegeld (as die werkgewer die mediese fonds subsidieer) en die beskikbare planne bied voordele wat ontwerp is om by werknemers se behoeftes te pas. Medihelp se MedReach is ’n omvattende plan wat spesifiek vir die korporatiewe mark saamgestel is.
Wat is die impak van Nasionale Gesondheidsversekering op my mediese fonds?
Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal voorlopig geen invloed op jou mediese fonds hê nie. Die doel van NGV is om uiteindelik universele gesondheidsorg in Suid-Afrika te bied. Die NGV-wet is in Mei 2024 onderteken, maar die volledige implementering sal nog baie jare neem, en geen inwerkingtredingsdatum is nog vasgestel nie. Wanneer NGV ten volle geïmplementeer is, sal mediese fondse steeds dienste kan dek wat buite die omvang van NGV val.
Hier is ons 10 belangrikste punte oor NGV.
Wat is die verskil tussen ’n oop mediese fonds en ’n geslote mediese fonds?
’n Oop mediese fonds is beskikbaar vir enigiemand wat wil aansluit, terwyl ’n geslote mediese fonds net vir spesifieke groepe beskikbaar is, soos werknemers van ’n maatskappy of lede van ’n organisasie.
Medihelp is ’n oop mediese fonds wat mediesefondslidmaatskap vir almal in Suid-Afrika bied.
Wat is ’n selfgeadministreerde mediese fonds?
’n Selfgeadministreerde mediese fonds bestuur sy eie daaglikse bedrywighede, soos ondersteuning aan lede, verwerking van eise en administrasie, eerder as om hierdie funksies aan ’n aparte administrateur uit te kontrakteer.
Sommige mediese fondse stel ’n eksterne administrateur aan om sulke dienste namens hulle te lewer. Selfgeadministreerde mediese fondse bestuur dit self. In albei gevalle is die doel om te verseker dat lede goeie diens ontvang en toegang tot hul gesondheidsorgvoordele het.
Medihelp is een van Suid-Afrika se grootste selfgeadministreerde mediese fondse.