Gesinne moes die afgelope paar maande aanpas by ’n nuwe manier van leef, met ouers en hulle kinders wat almal saam by die huis werk, speel en skoolwerk doen. Maar met publieke en privaat skole wat nou heropen, moet gesinne weer eens aanpas by nuwe roetines en strukture by die huis en die skool.
Sorg dat jy vertroud is met die skool se gesondheid- en veiligheidsmaatreëls
Skoolhoofde het reeds begin om met ouers te kommunikeer oor die heropening van skole, en deur seker te maak dat jy vertroud is met al die maatreëls wat ingestel is om kinders se veiligheid by hulle skole te verseker, kan jy – en jou kind – ’n mate van gemoedsrus kry.
Neem ingeligte besluite deur betroubare bronne te raadpleeg
Ouers sal bemoedig wees deur die inligting soos gepubliseer op die Centers for Disease Control and Prevention (CDC) se webtuiste, wat sê die bestaande beskikbare mediese bewyse oor COVID-19 dui aan dat kinders ’n laer risiko as volwassenes het om COVID-19 op te doen. Die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging ondersteun ook die trapsgewyse heropening van skole op grond van mediese bewyse.
Kinders met onderliggende siektetoestande het ’n groter risiko
Indien jy bekommerd is dat jou kinders ’n groter risiko vir ernstige siektes het sou hulle COVID-19 opdoen, maak seker dat jy al die feite ken sodat jy ’n ingeligte besluit kan neem voordat jy hulle terugstuur skool toe.
Herinner hulle om goeie higiëne toe te pas
Jou kinders is teen hierdie tyd seker reeds daaraan gewoond om goeie higiëne toe te pas. Jy kan hulle aanmoedig om hierdie gewoontes voort te sit by die skool deur vir hulle handreiniger, sneesdoekies en ’n masker te gee om saam te vat skool toe, en hulle te herinner om hulle hande gereeld te was en op ’n veilige afstand van hulle vriende te bly sodat hulle nie weer slegte gewoontes aanleer nie. Monitor jou kind noukeurig en stel die skool in kennis indien hy of sy enige COVID-19-simptome toon. Jy kan video’s oor voorkomende maatreëls en ander inligting kry op ons webblad spesiaal vir COVID-19.
Wees daar vir jou kinders
Kinders wat reeds terug is by die skool, moes aanpas by ander prosedures en prosesse soos pouses en skoolure asook ander maniere om met mekaar te verkeer sodat sosiale distansiëring moontlik is. Dit kan oorweldigend en verwarrend wees, daarom moet jy daar wees om hulle te ondersteun met die aanpassing.
Die departement van onderwys bied raad aan ouers oor hoe om hulle kinders te ondersteun, wat jy hier kan lees.
Die belangrikheid van sifting en toetsing
Sifting en toetsing vir COVID-19 identifiseer nuwe gevalle en verseker dat pasiënte behandeling ontvang en kontakte opspoor. Lees ons HealthyInfo wat die verskille tussen sifting en toetsing verduidelik, asook die kriteria waaraan pasiënte moet voldoen voordat hulle getoets word en waar hulle sifting en toetsing kan doen.
Medihelp Mediese Skema bied omvattende mediesefondsdekking binne en buite die hospitaal teen die skematarief uit jou kernvoordele vir COVID-19-toetse, ongeag die uitslag van die toets, mits daar aan sekere kriteria voldoen word. Jy kan al die dokumentasie wat nodig is om jou toestand vir VMV te registreer by die Member Zone oplaai.
Verwante artikels
COVID-19: Hoe om jou geestesgesondheid op te pas
Bestuur jou angstigheid tydens die COVID-19-krisis